Marais vlieg uitstekende vyf wenne in vyf weke
Tydens week vyf se wedvlug vanaf Hopetown (435km) het Kiewiet Marais van P.P.K. sy wenne op vyf te staan gebring, terwyl Johan Schlebusch van M.R.K. kort op sy hakke is, met vier oorwinnings. In die jaaroud wedvlug by Potchefstroom Posduifklub verower Marais plekke een, twee en vyf, terwyl Sarel Naudé hom jaag in plekke drie …

Tydens week vyf se wedvlug vanaf Hopetown (435km) het Kiewiet Marais van P.P.K. sy wenne op vyf te staan gebring, terwyl Johan Schlebusch van M.R.K. kort op sy hakke is, met vier oorwinnings.
In die jaaroud wedvlug by Potchefstroom Posduifklub verower Marais plekke een, twee en vyf, terwyl Sarel Naudé hom jaag in plekke drie en vier. In die opewedvlug maak Saltie en Lettie weer soos in week 1 en wen oud-polisieman Roelf van Aswegen met 28 sekondes. Onnie Nollie Meintjies wys hy kan kortpad ook vlieg, deur derde te eindig.
Eddie Bondesio eindig vierde en Kiewiet en Christo vyfde. By Mooirivier Resiesduifklub is daar ‘n groot verskeidenheid manne wat die top plekke deel. In die jaaroud-vlug seëvier Johan Schlebusch, terwyl prokureur Hennie Aucamp wys die manne gaan les opsê as hulle hom onderskat, met ‘n uitstekende tweede plek. Suidwester Willem Moolman vlieg baie goed met plekke drie tot ses. In die opevlug is dit Arrie Marais wat die wedvlug syne maak, Rian Grobler eindig tweede, At en Louw derde, Schlebusch vierde en Des Humpel vyfde.
By die puntetotale is beide klubs se kampioene van 2015, Johan Schlebusch en Kiewiet Marais, besig om behoorlik kleingeld te maak van hulle klubmaats in alle bestaande afdelings. M.R.K. Jaarouds- Schlebusch 391, Moolman 271 en Arrie en Tienie 261. Opeafdeling – Schlebusch 541, Moolman 313 en Humpel 307. Algeheel – Schlebusch 932, Moolman 584 en Humpel 491. P.P.K. Jaarouds- Kiewiet en Christo 758, Rooikraal hokke 697 , Sarel Naudé 478. Opeafdeling – Kiewiet en Christo 951, Saltie en Lettie 711, Sarel Naude 526. Algeheel – Kiewiet en Christo 1709, Saltie en Lettie 1134 en Rooikraal 1023.



