Lichtenburg klop Volkies in aanskoulike driefees om Jacob Wilkens-trofee te lig
‘n Brokkie van Volkies se hart is vandag, Saterdag, 23 Julie op hulle tuisveld gebreek toe Lichtenburg se eerstespan met ‘n 42-36 oorwinning die Jacob Wilkens-trofee vir die eerste keer sedert 2008 omhoog gehou het. In ‘n wip-wa wedstryd het Lichtenburg op die ou einde verdien om as Luiperdskampioenne gekroon te word na hulle 90 …

‘n Brokkie van Volkies se hart is vandag, Saterdag, 23 Julie op hulle tuisveld gebreek toe Lichtenburg se eerstespan met ‘n 42-36 oorwinning die Jacob Wilkens-trofee vir die eerste keer sedert 2008 omhoog gehou het.
In ‘n wip-wa wedstryd het Lichtenburg op die ou einde verdien om as Luiperdskampioenne gekroon te word na hulle 90 persent van die wedstryd voorgeloop het, maar Volkies se manne sal onthou word vir hulle veggees en dat hulle amper ‘n haas uit die hoed getrek het nadat hulle 28-10 teen halftyd agter was.
In ‘n wedstryd wat met propvol drieë gevul is het Volkies wonderbaarlik voorgeloop nadat linkervluel, Gideon Steyn oor in die hoekie is met net 10 minute speeltyd oor. Hanru van Rooyen sink die moeilike doelskop van die kantlyn en juig nes Stransky in 1995 met die skare was in ‘n koor “Volkies!” skree.
Ongelukkig vir Van Rooyen, sy span en die hele Volkskool ondersteuningsgroep het Liggies die finale sê gehad toe Boeshie van der Walt vir die wendrie oorgeduik het.
Vroeër het Lichtenberg die wedstryd met woema begin en vinnig Volkskool op die agtervoet met twee drieë deur die uitstekende Henk Venter en puik Evardi Boshoff, wat ‘n goeie wedstryd op losskakel gehad het. Dit was juis Liggies se agterlyn wat met flink handewerk en balverspreiding verdediging moeilik gemaak het. Volkies het effens plat gelyk in die eerste 25 minute en kon nie aan die gang kom nie. Eers toe Duardt Snyman Volkies se eerste drie druk, het hulle, hulle beste spel begin lewer.
In die tweede helfte het die Volkie-terugvegpoging begin met die twee Jandré’s, Steyn en Olivier wat twee goeie driëe gaan druk het om die punteverskil te vernou. Net toe Volkies dink dat hulle weer ‘n kans het, toe onderskep Bertu Jones die bal en hardloop 80 meter om met die drielyn kennis te maak.
Vyf minute later is Henry Campher oor vir Volkies en toe Gideon Steyn oomblikke later deurbreek en Van Rooyen verdoel was dinge skielik baie anders.
Tog het Lichtenburg vasgebyt en ook teruggeveg toe dit die nodigste was, Sodoende is die vorige “een punt verloorspook” ook iets van die verlede, nadat hulle in die vorige kragmeting tussen die twee skole met net een punt verloor het.
Volkskool se kaptein, Ruan von Abo, was vol lof vir Lichtenburg se span en het met ‘n swaar hart ware sportmansgees na die wedstryd bewys.
“Geluk aan Lichtenburg. Ongelukkig kon ons dit nie deurtrek nie end it is baie telleurstellend. Dit was ‘n harde wedstryd en een van my hoogtepunte om hierdie wedstryd teen julle te kon speel. Ek wil ook net dankie aan my span, al die ouers van albei skole en die ondersteuning dankie sê.”
Enersyds het Lichtenburg se kaptein, Gerhard Meyer, wat ook ‘n uitstekende wedstryd gehad het, ook sy hand na Volkies uitgesteek.
“Dit was ons hardste en moeilikste wedstryd hierdie seisoen en ons wil dankie sê vir die goeie stryd. Dankie ook aan al die ouers en ondersteuners, hierdie beteken baie vir ons.”
- Lees meer oor hierdie wedstryd en die ander Noordweseindstryde in komende week se Potchefstroom Herald.
Hier is al die aksiefoto’s: (Foto’s – Wouter Pienaar)




















































































































