SportSport

Groot toekenning gee ekstra dryfkrag vir Potch krieketster

Senwes Park is die tuiste van krieket in Potchefstroom en het al in sy 16 jaar talle krieketspelers opgelewer. Die gebore en getoë Potchefstroomse krieketspeler, Nicky van den Bergh, het sy merk telkemale op dié veld gemaak en is nou een van krieket se nuutste suksesstories, na sy toekenning as Nuweling van die Jaar by …

Senwes Park is die tuiste van krieket in Potchefstroom en het al in sy 16 jaar talle krieketspelers opgelewer. Die gebore en getoë Potchefstroomse krieketspeler, Nicky van den Bergh, het sy merk telkemale op dié veld gemaak en is nou een van krieket se nuutste suksesstories, na sy toekenning as Nuweling van die Jaar by die gesogte 2016 Krieket Suid-Afrika toekennings.

Van den Berg, wat sy skooljare in Laerskool Bailliepark en Potchefstroom Gimnasium voltooi het, en ook aan die NWU Pukke studeer het, is trots Potchefstroom en wys die res van Suid-Afrika watter talent die stad het.

“Dit was ‘n baie onverwagse ding gewees. Ek het eers laasjaar vir die Bizhub Highveld Lions begin speel en dinge het baie vinnig gebeur vir my. Ek het die kans gekry en ‘n paar wedstryde goed gedoen, wat belangrik was. Ek is baie bevoorreg,” vertel hy.

Volgens Van den Bergh het hy die afgelope seisoen eers werklik sy eie spel leer ken en sy eie identiteit as krieketspeler gevestig – iets wat baie belangrik is om daardie ekstra tree in die krieketwêreld te kan gee.

“Ek het geleer om meer effektief te wees en my sterkpunte te gebruik. Monty Jacobs en Brett Pelser het my baie gehelp by die Dragons en vandat ek by die Lions is, word ek gedurig gemotiveer om op my eie sterkpunte te fokus.

Die vlak van kompetisie is so hoog en ‘n mens moet gedurig op verskillende fasette fokus,” sê die paaltjiewagter en middelorde kolwer.

Nicky van den Bergh speel 'n treffende dekhou vir die  Bizhub Highveld Lions. Foto: Michael Sheehan/Gallo Images.
Nicky van den Bergh speel ‘n treffende dekhou vir die
Bizhub Highveld Lions. Foto: Michael Sheehan/Gallo Images.

Dinge het wel nie altyd vinnig vir Van den Bergh gegaan nie. Na sy debuut vir die Noordwes Dragons in 2010 moes hy ‘n jaar en ‘n half wag vir sy volgende wedstryd vir die span.

“Ek het toe ‘n 60 geslaan en ‘n 30 nie uit nie. Die volgende seisoen het ek meer speeltyd gekry en dit het my ‘n goeie drie vier seisoene geneem om myself by die Dragons te vestig. Dit was ‘n baie trotse oomblik om die Dragons as kaptein te lei. Die ondersteuning hier laat ‘n mens baie tuis voel wanneer ek vir die Lions hier in Potch speel,” verduidelik hy.

Tog sal hy die kans met albei hande aangryp indien hy vir die SA A-span opgeroep sou word.

“Ek het nog altyd in my loopbaan in ‘n sekere vlak krieket gespeel en myself gevestig voordat ek na ‘n hoër vlak aanbeweeg. Ek sal graag SA-A wil speel natuurlik, maar ook myself by die Lions vestig. As ek my span help om trofeë te wen, dan is my kanse nog beter om nasionaal gekies te word.”

Hierdie kranige kolwer se gunsteling krieketformaat is lang formaatkrieket en hy glo dat toetskrieket steeds die beste krieketformaat is, al het eendagwedstryde steeds sy plek.

“Ek fokus veral op die langer formaat van die spel. Dit is my groot doel om eendag toetskrieket te speel. As jy daar speel het jy jouself as ‘n krieketspeler bewys,” glo Van den Bergh, wat ‘n hoogste telling van 172 in eersterangsekrieket het.

Nicky van den Bergh with the current CEO of North West Cricket, Heinrich Strydom.
Nicky van den Bergh with the current
CEO of North West Cricket, Heinrich Strydom.

Van den Bergh ag die belangrikheid van kameraadskap en spangees baie hoog en glo hy sal onthou wil word as ‘n spanman.

“Ek moes hard werk om te kom waar ek is en veg vir my plek. Ek wil as ‘n vegter op die krieketveld onthou word. Iemand wat sterk in sy kop is en iemand waarop die span kan staatmaak om oor die wenstreep te dra. Ek sal eerder vir die span 10 ekstra lopies slaan as om nie uit te wees nie.”

Nicky van den Bergh se beste eendag XI (Spelers wat hy in aksie gesien het)

  1. Sachin Tendulkar
  2. Kumar Sangakkara
  3. Ricky Ponting
  4. Brian Lara
  5. AB de Villiers
  6. Michael Bevan
  7. Andrew Flintoff
  8. Wasim Akram
  9. Shane Warne
  10. Muttiah Muralitharan.
  11. Lasith Malinga

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button