Ritmiese gimnastiek is in haar bloed
Die hoë prestasie afrigter van Gimnastiek Suid-Afrika is tans op ons eie voorstoep. Ninette Duvenhage se liefde vir ritmiese gimnastiek is aansteeklik en met die eerste groet kan ‘n mens sien dat sy werklik haar lewe in die grasieuse sport ingekerf het. “Ek werk tans met die ontwikkeling van ons afrigters en dan ook ons …
Die hoë prestasie afrigter van Gimnastiek Suid-Afrika is tans op ons eie voorstoep. Ninette Duvenhage se liefde vir ritmiese gimnastiek is aansteeklik en met die eerste groet kan ‘n mens sien dat sy werklik haar lewe in die grasieuse sport ingekerf het.
“Ek werk tans met die ontwikkeling van ons afrigters en dan ook ons top ritmiese gimnaste soos Grace Legote.
“Ek moet die juniors en seniors gereed maak vir die 2020 Olimpiese Spele en seker maak dat ons gimnaste op standaard is,” sê sy.
Volgens Duvenhage moet sy ook oefenkampe reël en seker maak dat daar vordering onder die gimnaste is. Haar volgende teiken is om die gimnaste gereed te maak vir die 2018 Statebondspele.
Volgens Duvenhage is daar tans groot vordering in ritmiese gimnastiek in Suid-Afrika.
“Agt jaar terug het ons net ‘n senior Olimpiese Span gehad en nou het ons ‘n junior- en senior span. Ons het ook vanaf 97ste tot 37ste by die wêreldkampioenskappe gevorder. Noordwes het agt jaar terug net een klub gehad, nou is daar reeds vyf.”
“Ritmiese gimnastiek is elke meisie se droom. Dit het soveel grasie en is ‘n kombinasie van alle danssoorte. Kinders kry baie vertroue, dissipline en konsentreer beter,” voeg sy by. Duvenhage se pad in die gimnastiekwêreld was nie altyd maklik nie, waar sy baie hard moes werk om te kom waar sy vandag is.
“Gimnastiek is my hele lewe en vandat ek nege jaar oud is, het ek volstoom met gimnastiek begin en derde by die SA’s gekom op vlak 4. Daarna het ek tweede op vlak 6 gekom en was ook deel van die junior en senior Olimpiese span.”
Duvenhage het tot op 18-jarige ouderdom professioneel gekompeteer en daarna begin met afrigting, iets wat sy baie geniet en haar kennis kan terugstoot in dié sport.
“Met harde werk kan jy berge versit. Talent is nie alles nie,” sê Duvenhage wat by KSG in Potchefstroom tans honderd gimnaste elke week afrig. “My droom is vir elke gimnas om te besef dat enige iets moontlik is wanneer daar na uitnemendheid in jou lewe gestreef word.”



