Faan de Beer en Hennie Aucamp vat Gold Cup titels
Die naweek van die Gold Cup is in die duiwesport dié naweek van die jaar. Die wedvlug vanaf Matjiesfontein (927km) het toe nooit gebeur nie. As gevolg van baie slegte weer en reën in Beaufort-Wes wat op die roete van terugkeer lê, het die bestuur besluit om die loslatingspunt na Loxton (705km) toe te verander. …

Die naweek van die Gold Cup is in die duiwesport dié naweek van die jaar. Die wedvlug vanaf Matjiesfontein (927km) het toe nooit gebeur nie. As gevolg van baie slegte weer en reën in Beaufort-Wes wat op die roete van terugkeer lê, het die bestuur besluit om die loslatingspunt na Loxton (705km) toe te verander.
By Mooirivier Resiesduifklub het prokureur Hennie Aucamp vir die derde keer vanjaar koning gekoer en hiermee ook die gesogte Gold Cup verower! Hier eindig voorsitter Johan Schlebusch tweede en derde. In wedvlug twee is dit egter Riaan Grobler wat eerste eindig, met Theo Mienie tweede en Johan van Wyk derde.
By Potchefstroom Posduifklub het oud skoolhoof Faan de Beer die vyfde keer vanjaar die beker van oorwinning geproe en weggevlieg met die Gold Cup titel. Dit is egter nie die “end van die prent” nie.
Hy verower ook plekke 3,4 en 5! Slegs yster Kiewiet Marais maak hond haaraf met sy tweede plek. In wedvlug twee is dit egter Marais wat sy agtiende oorwinning vanjaar vlieg in week sewentien. Hy verower ook die tweede plek met Kirsten hokke derde, Saltie en Lettie vierde en Nic Stassen vyfde.
In die Ope-afdeling kompetisie by M.R.K is Schlebusch gemaklik voor, net soos verlede jaar met 1857 teenoor Arrie Marais se 1298 en Willem Moolman se 1171. In die klubkampioen-kompetisie lyk Schlebusch nog meer indrukwekkend met 2545, teenoor Arrie Marais se 1831, Fanie & Louise se 1825 en Aucamp se 1802. Schlebusch het ook weer die voortou terug geneem van Aucamp in die langpad-kompetisie en is nou weer met 21 punte voor.
In die ope-kompetisie by P.P.K. is Kiewiet Marais se heerskappy ongekend in die duiwesport. Met oud-Springbok atletiekafrigter Christo Snyman as sy hulp, het hy vanjaar almal verwoes wat voorkom. Hier lyk die punte soos volg: Ope-afdeling: Kiewiet en Christo 3737, Saltie & Lettie 2384, Faan de Beer 2334 en Rooikraal 2253. Algeheel maak Marais 5778 punte bymekaar, Roelf van Aswegen van Rooikraalhokke 3673 en Saltie en Lettie 3412. Rooikraal het wel vanjaar net een wen gevlieg, maar Konstant baie punte bymekaar gemaak om tweede te eindig!
Volgende week word die duiweseisoen afgesluit met verslag oor die wedvlug vanaf die mooi Karoodorpie Beaufort-Wes oor ‘n afstand van 765km.



