SportSport

Valke wys kloue met wen teen Luiperds

In ‘n senuweagtige laaste 10 minute op die Fanie du Toit Sportgronde het die besoekende Valke span net-net die Luiperds uitgehou en ‘n 41-35 oorwinning vanaand (5 Oktober) bewerkstellig. Die Valke se konsekwente spel, beide voorlangs en in die agterlyn, het vir ‘n naelbyt oorwinning teen die Luiperds gesorg. Dit was ‘n kwessie van so …

In ‘n senuweagtige laaste 10 minute op die Fanie du Toit Sportgronde het die besoekende Valke span net-net die Luiperds uitgehou en ‘n 41-35 oorwinning vanaand (5 Oktober) bewerkstellig.

Die Valke se konsekwente spel, beide voorlangs en in die agterlyn, het vir ‘n naelbyt oorwinning teen die Luiperds gesorg.

Dit was ‘n kwessie van so naby maar tog so ver vir die Luiperds wat ondanks ‘n verwoestende aanvallende poging net nie verby die Valke se verdediging kon kom nie.

In ‘n taai wedstryd het die Valke in druksituasies beter kopgehou en sodoende ‘n tuis semi-finaal volgende week in Kempton Park teen die Luiperds verseker. Die Luiperds sal terugdink na ‘n paar besluite wat nie hulle kant toe gegaan het nie asook besluitnemingsopsies van hulle kant af.

Dit was ‘n driefees op die Fanie du Toit Sportgronde in die eerste helfte waar die Luiperds en Valke sewe drieë tussen mekaar gedeel het.

Die Valke het eerste gedruk toe die spoedige vleuel, Ettienne Taljaard, oorgeduik het na ‘n kragtige lopie.

Die Luiperds het vinnig teruggekom toe Dean Stokes na Tapiwa Mafura se puik skoppie in die spasie, sy naam in die drieboeke gekry het.

Die momentum was vir die volgende 5 minute in die Luiperds se guns en die vleuel, Lungelo Gosa, het na ‘n vaardige agterlynbeweging die Luiperds vir die eerste keer in die wedstryd met 12-7 laat voorloop. Schalk Hugo se akkurate skopvoet het dit 14-7 gemaak.

Die Valke se vaste fasette was deurgaans sterk en hulle het vinnig weer hulle koppe lig met twee drieë kort na mekaar. Eers het buitesenter Lundi Ralarala die telling gelyk gemaak en toe het die agtsteman, Anrich Richter die besoekers met ‘n drie van sy eie met 21-14 laat voorloop.

Die Valke se Friedl Olivier was ook konstant met sy skopvoet en het met ‘n 100% skoprekord die Valke in beheer gehou. Die Luiperds se veggees het wel gewys toe Dean Stokes die meeste van ‘n los bal gemaak het om sy tweede drie te druk. Die bestendige Schalk Hugo verdoel en die telling is weer gelyk op 21-21. Grant Janke se drie net voor die rusbreuk het die Valke met 28-21 laat voorloop.

Foto: Wouter Pienaar

In die tweede helfte het die Valke hulle voorsprong behou ondanks die Luiperds se honger vir ‘n terugvegpoging op tuisgrond.          

Een van die Valke se sterkpunte in die wedstryd was heelagter, Andries Truter, se skopvoet en sy besluitneming op die aanval wat die Luiperds verdediging besig gehou het. Op die ou einde was Olivier se strafskop en Valke losskakel, Errol Jaggers, se skepskop die verskil tussen die twee spanne op die telbord.

Luiperds: 35 (21)

Drieë: Dean Stokes (3), Lungelo Gosa, Marius Stander,

Doelskoppe: Schalk Hugo (5)

Valke:  41 (28)

Drieë: Grant Janke, Ettienne Taljaard, Lundi Ralarala, Anrich Richter

Doelskoppe: Friedl Olivier (4)

Strafskoppe: Olivier

Skepskop: Errol Jaggers

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button