SportSport

Volkies wys hulle staal in gesogte Noord-Suid T20 toernooi

Op die naweek van 22 en 23 September het Volkies aan die eerste Noord-Suid T20-toernooi in Pretoria deelgeneem as een van 16 uitgelese spanne in die land en het Potchefstroom se naam hoog gehou. Die agt Suidspanne is Bishops Diocesan College, SACS, Wynberg Boys’ High en Paarl Gimnasium uit die Kaap; St Andrew’s College van …

Op die naweek van 22 en 23 September het Volkies aan die eerste Noord-Suid T20-toernooi in Pretoria deelgeneem as een van 16 uitgelese spanne in die land en het Potchefstroom se naam hoog gehou. Die agt Suidspanne is Bishops Diocesan College, SACS, Wynberg Boys’ High en Paarl Gimnasium uit die Kaap; St Andrew’s College van Grahamstad; en Westville Boys’ High, Northwood School en Glenwood High School van KwaZulu-Natal.
Die Noorde word verteenwoordig deur Hoërskool Centurion, Menlopark en Waterkloof van Pretoria; Volkskool in Potchefstroom; Hoërskool Nelspruit en Rustenburg; Grey College van Bloemfontein en Hoërskool Noord-Kaap van Kimberley.

Volkies het sy openingspoelwydstryd teen SACS oortuigend gewen met 100 lopies nadat Martin Fourie 58(34) en Christiaan Bester 71(37) van die begin baie aggressief gekolf het. Met die hulp van Jannie Claassens 23(8), Christopher de Freitas 30(22) en Awie Visser 55(23) het Volkies 259 aangeteken. Goeie boulwerk deur veral André Taljaard met 2/20 in 4 beurte het SACS beperk tot 159/4 in hulle 20 beurte.

Die wedstryd teen Centurion, wat uiteindelik teen Menlopark in die finaal gespeel het, was teleurstellend en Volkies het met 9 paaltjies verloor. Dit was net Martin Fourie met 60(35) wat noemenswaardige teenstand gebied het.
Volkies het egter opgemaak teen Northwood deur met 115 lopies te wen. Martin Fourie het as kaptein weer die voorbeeld gestel met 68(42). Dit was egter Jannie Claassens met 86(33) wat gewys het hoe vernietigend hy kan wees in hierdie formaat. Volkies het ‘n indrukwekkende 222/3 aangeteken in hulle 20 beurte en Northwood beperk tot 107/9. Van Zyl Smit het 3/19 geneem en is goed ondersteun deur Jaco Viljoen met 2/14. Volkies het danksy ‘n puik 95(51)* 177/5 teen Menlopark aangeteken. Alhoewel dit die meeste lopies is wat enige span teen Menlopark kon aanteken, was dit nie genoeg nie en moes Volkies die knie buig teen die uiteindelike toernooiwenners.

Volkies se wedstryd van die naweek was teen Waterkloof, waar Volkies 232/6 aangeteken het in hulle 20 beurte. Claassens met 86(34) was vernietigend en het 12 sesse gemoker. Hy is goed bygestaan deur Awie Visser 61(25) en Smit 31(22). Waterkloof het egter net so uitstekend gekolf en die totaal bereik met ‘n paar balle oor. Albert Wells met 92(35) het 10 sesse gemoker om aan sy span die oorwinning te gee.

Volkies het die toernooi goed afgesluit met ‘n 78 lopie oorwinning oor Wynberg. Die nasionale o.19-snelbouler, Thando Ntini het hom vasgeloop in Volkies se Jannie Claassens. Hy het in 3 beurte 37 lopies afgestaan sonder ‘n paaltjie. Jannie het die beste vir laaste gebêre met 101(45) wat 9 sesse en 6 viere ingesluit het. Martin Fourie met 67(28) het met 3 sesse en 11 viere ook ingeklim en die boulers kasty.

Volkies het in die 6 wedstryde 1 234 lopies aangeteken teen ‘n gemiddeld van amper 206 per wedstryd. Dit was ‘n kolfvertoning soos min. Die volgende kolwers het behoorlik gewoeker: Jannie Claassens 299 (125) met 29×6 en 17×4 in 6 kolfbeurte, Martin Fourie 283 (125) met 36×4 en 11×6 in 6 kolfbeurte en Awie Visser 251(121) met 20×4 en 19×6 in 5 kolfbeurte. Van Zyl Smit met 8/164 in 18 beurte en André Taljaard met 7/134 in 17 beurte het die beste gedoen met die bal in ‘n toernooi waar die boulers maar swaar geleef het.

Volkies het baie goed rekenskap gegee van hulleself in ‘n toernooi waar die gehalte van skolekrieket na nuwe hoogtes verskuif is. Interessant dat al 6 die Finsbury A-liga spanne deel was van die top 8 spanne.
Dit is ‘n bewys van die standaard van krieket wat hier in die Noorde gespeel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button