So naby maar tog so ver vir Volkies
Hoër Volkskool Potchefstroom se eerstespan het die afgelope Saterdag teen Hoërskool Garsfontein die knie gebuig in die Noordvaal halfeindstryd in Pretoria met twee paaltjies. Die guns wou net nie in Volkies se kant val in hierdie kop-aan-kop wedstryd nie en Garsies het op die ou einde net genoeg in die tenk gehad om ‘n oorwinning …
Hoër Volkskool Potchefstroom se eerstespan het die afgelope Saterdag teen Hoërskool Garsfontein die knie gebuig in die Noordvaal halfeindstryd in Pretoria met twee paaltjies.
Die guns wou net nie in Volkies se kant val in hierdie kop-aan-kop wedstryd nie en Garsies het op die ou einde net genoeg in die tenk gehad om ‘n oorwinning te behaal. Volkies het eerste gekolf en 278 almal uit aangeteken. Garsfontein het die totaal bereik op 281/8 in die 49ste beurt.
Vroeër het Garsies die loot gewen en Volkies gevra om te kolf.

Dit het eers soos die verkeerde besluit gelyk, toe Volkies se Van Zyl Smit (42 van 48) en Martin Fourie (71 van 76) ‘n stewige 80-lopie vennootskap aanmekaar geslaan het. Hierna het Jannie Claassens ‘n vinnige 28 (17) lopies bygevoeg, terwyl Awie Visser 71 (67) vir die soveelste keer weer met ‘n puik beurt in die middelorde uitgeblink het. Garsfontein se boulers het met dissipline geboul en slegs 8 ekstras afgestaan.
Volkies het vroeg toegeslaan en Garsies op 21 vir 3 gehad na ‘n uithardloop en ‘n paaltjie deur Claassens en Timothy Malan elk. Christiaan Oberholzer 114* (121) en Robert Ferreira 102 (109) het met baie gedissiplineerde kolfwerk Volkies se kans om vir die finaal te kwalifiseer, verydel.
Nadat Ferreira uit is het die paaltjies gereeld geval en Garsies kon die wenlopies eers aan die einde van die 49ste beurt aanteken met nog net 2 paaltjies staande. Claassens was met 3/32 in 10 beurte die beste bouler vir Volkies.
Dit was effens van ‘n anti-klimaks vir die Volkie-seuns na ‘n briljante seisoen waar hulle as Noordweswenners aangewys is en vir kookwater krieket gesorg het.
Al was ‘n plek in die eindstryd nie beskore nie, kan hulle steeds trots voel op hulle seisoen.





