Rankin maak weer naam op die baan
Die plaaslike baanfietsryer, Riaan Rankin, het Potchefstroom met eer by die interprovinsiale baanfiets (velodrome) kampioenskappe op 11 November by Hector Norris Park in Johannesburg verteenwoordig. Rankin het weens die feit dat daar nie ‘n Noordwesspan vir die byeenkoms saamgestel is nie, Gauteng Baanfietsry verteenwoordig, tesame met JC Jooste van Klerksdorp. Rankin was deel van die …
Die plaaslike baanfietsryer, Riaan Rankin, het Potchefstroom met eer by die interprovinsiale baanfiets (velodrome) kampioenskappe op 11 November by Hector Norris Park in Johannesburg verteenwoordig.
Rankin het weens die feit dat daar nie ‘n Noordwesspan vir die byeenkoms saamgestel is nie, Gauteng Baanfietsry verteenwoordig, tesame met JC Jooste van Klerksdorp.
Rankin was deel van die Gauteng Veteranespan (35+) waar hy in die naelrit-span die titel by die kampioenskappe verower het. Rankin se span het in ‘n tyd van 48.26 sekondes klaargemaak, wat die tweede vinnigste tyd nog in SA oor dié afstand vir veterane is.
“Span-naelrit (Team Sprint) is die vinnigste item in baanfietsry.
Al die ryers in ‘n span lyn op vir ‘n stilstaande begin, waarna die voorste ryer die spoed moet opneem na net oor die 60km per uur op 250m in die wedren, met die ander twee ryers agter hom in sy sleur. Op 250m swaai hy op. Ryer nommer twee jaag dan die volgende 250m met ryer drie agter hom. Ryer nommer 3 moet dan die laaste 250m ry,” vertel Rankin.
Volgens Rankin is die spoed waarteen die ryers ry ook een van die opwindendste aspekte van die sport.
“Dit alles gebeur teen volspoed. Baanfietse het natuurlik ook net een rat, dit moet dus versigtig gekies word om van 0km/h so vinnig moontlik te kan versnel, maar groot genoeg om oor die 60km/h te kan gaan en volhou.
Rankin noem ook dat hy as fietsryer baie bevoorreg was om saam met twee legendes van dié sport die eerste plek te kon verower.
“My een spanmaat, Gerrit Scheepers, hou verskeie SA rekords en is ‘n voormalige wêreldkampioen. Die ander spanmaat, Grenville Scullard, is die top veterane baanfietsryer in SA, met ‘n groot aantal SA rekords, vorige wêreldrekords en is ook ‘n vorige wêreldkampioen.”





