NWU se Varsitybekerkrygers klop UWK in opwindende eerste tuiswedstryd
By ‘n propvol Fanie du Toit Sportgronde het die NWU in hulle eerste tuiswedstryd in vanjaar se Varsitybeker ten spite van ‘n paar foute vir UWK met 37-21 geklop. Altyd spanne het opwindende hardlooprugby gespeel, maar die NWU het net te veel skietgoed gehad op die ou einde. Die NWU se voorspelerpak was ook op …
By ‘n propvol Fanie du Toit Sportgronde het die NWU in hulle eerste tuiswedstryd in vanjaar se Varsitybeker ten spite van ‘n paar foute vir UWK met 37-21 geklop.
Altyd spanne het opwindende hardlooprugby gespeel, maar die NWU het net te veel skietgoed gehad op die ou einde. Die NWU se voorspelerpak was ook op hulle stukke gewees in die wedstryd met talle drieë wat uit rolmaalbewegings ontstaan het.
Die NWU se pers massas op die pawiljoen het baie rede gehad om fees te vier na ‘n uitstekende begin toe Robert Hunt oorgeduik het in die 13de minuut om die wiel aan die rol te kry.
Die buitesenter, Evardi “Big Show” Boshoff het toe die puntestand vergroot met ‘n puik stukkie hardloopwerk om die tuisskare behoorlik te laat baljaar.
Schalk Hugo se berekende skopvoet was weer in die kol in ‘n opgewonde eerste helfte toe hy drie uit drie verdoelings oorgeklits het.
Voor halftyd het UWK wel die laaste sê voor halftyd gehad toe regtervleuel, Juanre de Klerk oorduik om ‘n tikkie hoop vir die besoekers te gee met die telling op 23-7.
Die NWU heelagter, Chuiner van Rooyen was weer eens absoluut puik gewees op die aanval en het met sy wikkel-stappies die UWK-verdedigers behoorlik laat sweet.
Dit was juis na Van Rooyen die momentum gebou het, dat die NWU toe op die voorvoet kon kom met die gevolg dat die slot, Danny du Plooy vir die tuisspan se vierde drie oor is.
UWK het wel nie opgegee nie en moedig probeer om weer in die wedstryd terug te keer. Slegs 5 minute na Du Plooy se drie was UWK se De Klerk oor vir sy en sy span se drie, met puik afronding in die hoekie.
UWK het toe nader aan die telling beweeg toe Tristan Leyds oor om die gaping na 16 punte te verklein. Met slegs 15 minute oor was dit wel effens te laat vir UWK om ‘n behoorlike terugvegpoging te loods.
UWK het wel ‘n baie beter tweede helfte beleef met die NWU wat te veel hanteringsfoute op die aanval in goeie posisies gemaak het. Meer klamte in die 22 sou die NWU goed te stand gekom het en in die laaste 10 minute moes hulle hulle beste verdedigingsvoet voor sit om Chester Williams se UWK-span uit te hou.
NWU: 37 (23)
Drieë: Robert Hunt, Evardi Boshoff, Wandi Mazibuko, Louis van der Westhuizen, Wian Conradie
Doelskoppe: Schalk Hugo (5)
UWC: 21 (7)
Drieë: Juanre de Klerk (2)
Doelskoppe: Keagan Fortune (2)




