Op 43-jarige ouderdom het die Potchefstroomse baanfietsryer, Riaan Rankin, nog ‘n prestasie op sy ellelange kerfstok geplaas.
Hy het as deel van die veteraan baanfietsryspan by die Noordelike Baanfietsry-kampioenskappe goud verower. Rankin-hulle het ook ‘n nuwe SA-rekord vir ‘n veteraan mansspan tussen die ouderdom van 35-44 opgestel.
Hy het in die Elite-ouderdomsgroep deelgeneem in die byeenkoms wat op 2 en 3 Maart by die Hector Norris Park Velodrome in Johannesburg plaasgevind het. Dié byeenkoms was vir alle noordelike provinsies (Gauteng, Noordwes, Vrystaat, KwaZulu-Natal, Limpopo) en is oor al die ouderdomskategorieë (Junior, Elite, Veterane en Meesters) gehou.
Rankin noem dat sy span vir die Team Sprint-item uit ryers bestaan wat almal in die veterane (M35-44) ouderdomskategorie val. Rankin se spanmaat, Gert Fouché (Vets M35 baanfietsry wêreldkampioen) neem egter gereeld teen Elite ouderdomsgroep ryers, insluitend professionele ryers soos Nolan Hoffman, Dawid Maree en Steven van Heerden deel. Hy wen hulle gereeld in sy spesialis item. Behalwe sy wêreldtitels in veterane-kategorie, is Gert vir drie jaar in ‘n ry ook die SA Elite-kampioen op die Individual Pursuit-item.
“Dit het myself en ons ander spanlid, Max Guglielmi, geïnspireer om dit te probeer naboots en ook daardie prestasies te bereik. Saam met Gert het ons dus ingeskryf vir die Team Sprint-item as ‘n Elite ouderdomsgroep-span,” noem Rankin.
Hy gee alle eer aan die Here vir sy talente en sien dit as sy plig om dit uit te leef.
Volgens Rankin is Hector Norris Park ‘n ou fietsrybaan waar afstande nog in treë (yards) gemeet word, aangesien die baan in die 1960’s gebou is. “Die Team Sprint item word onder spesifieke uitleg reëls gehou (halfrondtes per been), dus word Team Sprint by Hector Norris Park oor 750-treë gehou,” verduidelik Rankin.
Rankin was ryer nommer een, wat van stilstaande posisie die spoed moet opneem na volspoed vir ‘n halwe baanrondte afstand (250-treë), waarna ryer twee en drie hul deel moet doen vir die volgende twee halfrondtes. Ryer nommer twee was Max Guglielmi, met Gert Fouché wat as ryer nommer drie die ankerbeen gedoen het.
“Dit was ‘n klipharde poging met baie druk op ons om teen die jonger Elite ouderdomsgroep ryers te moet ry, maar ons het dit reggekry om die kampioenskap in ‘n tyd van 47.43s te wen, met die Gauteng Elite-span wat 2de gekom het. Die tyd is ‘n 750-jaart SA rekord vir ‘n Vets M35-44 span. Dis ‘n lekker loopbaan hoogtepunt op 43 jaar oud,” sê Rankin.
“Ek kan nie bekostig om eers die kleinste fout te maak nie. Die gevolg van ‘n 0.5 sekonde fout op my been kan die hele wedren met tot 1.5 sekondes op tyd kos. Dit is wel juis die split sekonde effekte wat my geweldig energie gee.
Ek en die twee spesifieke spanmaats, Max en Gert, is almal fanaties oor die tegniese detail van die wedren. Die regte ratkeuses per man een, twee en drie, die regte wegspringtegniek en die regte metode om oor te gee. Dis ongelooflik lekker om saam met ander manne deel te neem wat hierdie kompeterende passie deel.
“Ons volgende doelwit as span is om ook die 750-meter SA rekord te breek, iets wat ons waarskynlik eers vroeg in 2020 voor sal kans kry,” het hy gesê.



