Dertien swemmers van die NWU-Junior Swemklub het vanaf 3 – 5 April aan Swem Suid-Afrika se Vlak 2 Nasionale Streekskompetisie in Polokwane deelgeneem.
Dié groepie entoesiastiese Pukkies het gedurende die afgelope swemseisoen hard voorberei om hul eweknieë uit Noordwes, Sentraal- en Oostelike Gauteng, Limpopo, die Pretoria-omgewing, Mpumalanga, Namibië, Zimbabwe, Kenia, Tanzanië en Swaziland die stryd in die water aan te sê. Lionel Moss (2 goud, 2 silwer, 1 brons) en Clarissa Liebenberg (1 goud, 2 silwer en 3 brons) het op die podium geboer, terwyl Jace Gomes (2 silwer, 3 brons), Jack Cameron (2 silwer), Li McQuire (1 silwer) en Jeanné van der Merwe (1 brons) ook gewys het van watter stoffasie hul gemaak is.
Die Pukkies het ook geskitter in die aflosse en die klub het uiteindelik 7de uit 48 swemklubs geëindig met ‘n totaal van 25 medaljes.



