Vandat Potch Gimmies se SA-skole tennisster, Marjuzel Venter, drie jaar oud was, het sy reeds ‘n oog vir ‘n tennisbal gehad. Nou, 12 jaar later, is hierdie graad nege-leerder een van haar skool se top sportsterre met haar insluiting in die SA-Skole-span vir juniors.
Marjuzel is skaars ‘n kwartaal in Potchefstroom, nadat sy vanaf Kimberley verhuis het. Voorheen was sy in Hoërskool Diamantveld en Laerskool Newton in Kimberley.
“Ek het Potchefstroom toe gekom omdat ‘n mens hier die beste geleenthede in sport kry en sulke goeie fasiliteite het,” sê Marjuzel, wat by die Riaan Venter Tennis-akademie onder die afrigting van Jandré Schoeman oefen.
“Ek het baie hard gewerk om hier uit te kom en dit neem baie oefening ook,” sê Marjuzel, wie se sterkpunt haar rughandhou is.



