Haar hele lewe lank reik die Potchefstroomse netbalster, Caitlinn Rousseau, letterlik en figuurlik na nuwe hoogtes op die netbalbaan.
Sy speel tans vir die Noordwes-Universiteit netbal, waar sy al ‘n dubbele USSA wenner is, asook alombekend is vir haar prestasies vir ML Fick en Volkskool op die netbalbaan. Hierdie hulpverdediger is in haar element wanneer sy ‘n bal onverwags kan onderskep. Soos ‘n radar hou haar donkerbruin oë die bal op die baan dop en in ‘n oogwink is die opposisie op die agtervoet.
Bowenal is dié USSA-netbal gouemedaljewenner se modus operandi sedert haar eerste tree op die netbalbaan nog altyd om die spel eerstens te geniet.
“Ek het in Gr. 3 by ML Fick my liefde vir die sport ontwikkel toe ons begin oefen het en geleer het wat om te doen en hoe dit werk. Van daardie oomblik af het ek dit al hoe meer begin geniet,” vertel Caitlinn, wat destyds die oog van die gerespekteerde voormalige netbal guru by Volkies, Irene Seymore, gevang het.

“My netbal het baie verbeter die dag wat juffrou Irene Seymore my talente raakgesien het en my ‘n kans gegee het om te kon groei in myself. Volkie netbal het my beslis geleer om meer in myself te glo en om harder te werk om sodoende my doelwitte te kon bereik. Sy is beslis een van die grootste redes vir my sukses vandag. Ek kan nie genoeg my dank beklemtoon aan juffrou Irene nie,” dink sy terug.
Caitlinn was in haar hoërskoolloopbaan een van die sleutelspelers in ‘n top span wat in 2013 as SA Skolekampioene gekroon is.
“Die beste oomblik by Volkies was toe ons as o.15A-span die eerste keer as SA skolekampioene gekroon is. Dit was een van die ongelooflikste oomblikke wat ek vir altyd sal koester. Naas dit sal ek ook nooit vergeet hoe ons as o.16 A-span ons titel kon verdedig het en vir ‘n tweede keer die SA skolekampioene was nie. Ek was ook bevoorreg om in my Gr.11-jaar Volkies se 1ste netbalspan te kon verteenwoordig en in dieselfde jaar het ons span Volkie-Gimmie gewen, wat ‘n onbeskryflike oomblik was. Al die oomblike was hoogtepunte, maar om eerlik te wees, elke Volkie netbal-oomblik was uniek,” onthou sy.
Na skool het hierdie talentvolle netbalspeler Menslike Bewegingskunde en Sielkunde aan die NWU gaan studeer. “Ek wou met my hele hart na skool aanhou met netbal omdat dit een van my grootste drome was. Ek was toe bevoorreg genoeg om my netbal verder te kon verbeter by die NWU.”
“My grootste doelwit wat ek gehad het toe ek op skool was, was om in my eerste jaar vir Puk 1 te speel. Dit was dus ook my motivering om hard te werk en met elke oefening en wedstryd my alles te gee sodat ek my doelwit kon bereik,” vertel sy doelgerig.
Vir Caitlinn is dit ‘n groot eer om steeds die NWU in drie Varsity Netbaltoernooie en verskeie ander USSA-toernooie te verteenwoordig. Dit is ook saam met ‘n uitstekende groep talentvolle netbalspelers en puik afrigters wat haar bystaan.

“Dit is ‘n goue oomblik om al hierdie hoogtepunte saam met ‘n wonderlike afrigter en span te kon ervaar. Ek was in my eerste jaar bevoorreg genoeg om saam met coach Dorette Badenhorst (huidige Protea netbalafrigter) te kon werk, wat my gehelp het om my voete as eerstejaar te kon vind. Tans is ek in die bevoorregte posisie om deur ‘n voormalige Proteaspeler, Elsunet du Plessis, afgerig te word waarby ek as speler en afrigter iets kan leer, sê Caitlinn.
Dit is iets wat opmerklik by Caitlinn is – haar bereidwilligheid om by ander te leer en inligting soos ‘n spons in te win. Saam met hierdie bereidwilligheid is ook ‘n groot doelgerigtheid om op te staan na sy geval het.
“
Die grootste lesse wat ek geleer het was op skool toe ek my eerste enkelbesering gehad het, om daarna op te staan en hard te werk om weer te kon wees waar ek was. Ek het in 2019 ook my knie-operasie gehad waar ek ‘n groot deel van my jaar langs die kant van die baan moes spandeer en baie toernooie afstaan. Ek het geweet dat ek sterker sou terugkeer en dat dit my ‘n sterker sportvrou sal maak.”
Vir Caitlinn is netbal ‘n voertuig om nooit op te hou droom vir dit wat jy wil bereik nie.
“Harde werk word beloon aan die wat bereid is om daarvoor te werk en nooit moed opgee nie.
“Don’t compare your life to others. There’s no comparison between the sun or moon, they shine when it’s their time,” haal sy ‘n onbekende gesegde aan. As daar iemand is wat Caitlinn haar hele lewe gedra het en as rolmodel dien, sal dit haar ma wees wat moederliefde op alle vlakke gebied het. “Sy het my grootgemaak om die sterk dame te wees wat ek nou is. Sy het my geleer om aan te hou streef na my doelwitte en my gemotiveer om nog beter te wees as wat ek is. Sy het my met al my beserings en pyne op haar vingerpunte gedra en bygestaan.”
Op die netbalbaan is haar voormalige spanmaat en Proteaspeler, Monique Reyneke, haar rolmodel.

“Ek het die voorreg gehad om vir drie jaar lank een van haar spanmaats te wees, waar ek die laaste twee jaar saam met haar in die verdedigende sirkel kon speel.
“Sy het my geleer om op te hou twyfel in myself en het my bygestaan vanaf my eerste jaar op Puk 1 tot waar ons ons toernooi saam afgesluit het in die halfeindstryd van Varsity Netbal. Ek het ongelooflik baie by haar geleer en sou nie die verdediger gewees het wat ek vandag is nie.”
Caitlinn weet waarheen sy op pad is omdat sy weet waar sy vandaan kom – ‘n trotse Potchefstromer wat nog altyd hard gewerk het om te kom waar sy vandag is sodat haar drome in realiteit kan verander.




