Joe Smith is ‘n naam wat al vir lank in Potch geken word – as dit nie vir sy kragoptelwerk is nie, dan is dit beslis vir sy rugby die afgelope dekade.

Smith is welbekend as ‘n breker voorryman wat deel van die NWU se 2016 Varsitybekerspan was wat die titel teen Maties in Stellenbosch ingepalm het. Verder is hy ook gereeld op die rugbyveld (tans as afrigter van Potch Dorp se eerstespan) te sien. Alles wat goed is het eintlik in 2010 vir Smith gebeur toe hy in ‘n Volkietrui teen Gimmies in die Classic Clash amok gemaak het. Smith, wat toe die nommer 2 trui op sy rug gedra het, het sy span na ‘n 30-3 loesing teen Gimmies op die Fanie du Toit Sportgronde gelei. Smith het ‘n drie in die wedstryd gedruk en saam met sy spanmaats soos Mark Reinecke (flank) was hul net te goed vir Gimmies.

Dit was een van Volkies se bekendste oorwinnings teen Gimmies, wat dalk net met die onlangse 50-10 loesing in 2018 kan kompeteer. Op die netbalbaan het Gimmies nou weer die septer geswaai met Leonie Stander se eerstespan dogters wat met ‘n 32-19 sege feesvier. Vir Gimmies het Timoné Grobler en Chantel Enslin naam gemaak met hulle skerpskutter oog vir die doel.
Nou, ‘n dekade later, word Gimmies se netbalspan steeds as een van die beste in die land beskou.





