Die Luiperds is gereed om ‘n nuwe begin in 2021 te maak met ‘n span vol nuwe gesigte en ‘n paar bekendes wat weer die rooi en groen oor hulle kop gaan trek.
Een van die grootste aanwinste is beslis die 2015 Luiperds se Speler van die Jaar, Robert Kruger. Kruger was die afgelope paar jaar by die Leeus en het ook verlede jaar ‘n seisoen in Japan vir NTT Communications Shining Arcs gespeel.
Hierdie slot en flank het hope ervaring en is slaggereed om weer op Olënpark uit te draf. “Ek bring baie ervaring en kan as ‘n mentor vir die jong ouens optree. Ek wil aanhou om fisies in my spel op die veld te wees en ook myself verbeter,” noem Kruger.
Ander nuwelinge sluit in die talentvolle Maruping broers, Vincent en Victor, die blitsvinnige heelagter, Allistair Mumba, veelsydige agterspeler, Petri du Plessis, sowel as die rotsvaste stut, JP Mans.

“Ek sal graag my rugby hier by die Luiperds verder wil laat groei om iets groter te bereik,” vertel Mumba. Hy is maar skaars ‘n paar dae in Potch en vind nog sy voete nadat hy voorheen by die Griffons en Pumas diens gedoen het.
Vincent en sy broer Victor, glo ook albei dat hulle die regte bestanddele het om die Luiperds na titels te lei.
“Ons wil graag alles in ons vermoë doen om die Luiperds te laat wen. Ons glo ons kan ‘n groot bydrae maak,” beklemtoon Vincent, ‘n voormalige Griffons kaptein.
Victor sal as losvoorspeler ook seker maak dat balbesit behou word en dat daar momentum by die afbreekpunte is.

Vir Petri was sy insluiting in die groep ‘n verrassing, aangesien hy die afgelope tyd naam by Klerksdorp Rugbyklub gemaak het.
“Dit is ‘n groot voorreg om deel van die Luiperds te wees. My doelwitte is om as speler te groei en ook by al die afrigters te leer,” deel hy.
Buiten die nuwelinge sal staatmakers soos Eugene Hare, HP Swart, Chuiner van Rooyen en Tjaart Benade ook terugkeer.
Die Luiperds sal weer deur André Pretorius aangevoer word, met Chaka Willemse en Jean Tiedt wat hom as hulpafrigters ondersteun. Eric Herbert en Gerald McPherson sal ook die Luiperdsgroep lei wanneer Pretorius en kie die NWU se Varsitybekerspan onder hande het.
Die Luiperds sal in Februarie 2021 aan die SA Cup deelneem wat as ‘n kwalifiserende toernooi vir die Curriebeker sal dien. Aangesien die SA Cup en Varsitybeker op dieselfde tydstip plaasvind, is daar besluit dat twee groepe afrigters aangestel word om seker te maak dat sake glad verloop.
Die Luiperds het hierdie week amptelik weer begin oefen, maar daar vind nog geen kontak plaas nie, met die klem wat vir eers op algemene fiksheid geplaas word.
Luiperds groep vir 2021:
Victor Maruping, Vincent Maruping, Danrich Visagie, Eugene Hare, Robert Kruger, HP Swart, JP Mans, Kabelo Motloung, Allistair Mumba, Marius Stander, Oscar Msengana, Petri du Plessis, Siya Mdaka, Tjaart Benade, Warren Williams, Riaan May, Malembe Mpofu, Sylvester Hassien en Chuiner van Rooyen.




