“Daar was so bietjie nerves toe ons kies om pale toe te gaan, maar na dit het ek net gefokus en maar gedoen wat ek tydens oefeninge doen. Gelukkig het als mooi uitgewerk. Die atmosfeer na die tyd was ongelooflik en almal was over the moon.”
So vertel die NWU se nuwe held, Keagan Fortune, wat ‘n strafskop in verstreke tyd oor die pale gesit het om die NWU met 22-20 teen Wits in die afgelope Vrydag se Varsitybekerwedstryd op Loftus Versfeld te laat seëvier.

Dié losskakel moes toekyk hoe Wits se heelagter, Christian Humphries sy span met ‘n strafskop laat voorloop met slegs een minuut se speeltyd oor. Fortune het wel nie moed verloor nie en hy en sy span het gewys dat die wedstryd nooit verby is voor daardie eindfluitjie blaas nie.
‘n Hoogvat het vir NWU kaptein, Lincoln Daniels, die geleentheid gegee om pale toe te skop of op te gaan vir ‘n drie – sy vertroue was in sy nommer 10 wat die geleentheid met altwee hande en ‘n sterk skopvoet aangegryp het.
Video van Keagan Fortune se skop:
‘n Moeilike skop vanaf die kantlyn in nat toestande was dit inderdaad, maar vir Fortune, wat al as jong laaitie van sulke situasies droom, was dit nou ‘n geleentheid om op die groot verhoog ‘n held te wees.
“Van jongs af oefen ‘n mens sulke skoppe op die veld en verbeel jou jy moet die wedstryd wen met ‘n laaste skop. Ek sou sê dat ek gereed was daarvoor en in myself geglo het.”
Fortune, wat voorheen Varsitybekerrugby vir die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gespeel het, doen tans ‘n een jaar diploma in besigheidsbestuur by die NWU. Hy vind ook dat hy sy spanmaats goed leer ken, veral omdat hulle in die bio-borrel weens Covid-19, baie tyd saam spandeer.
“Ons probeer dat die ouens ‘n gehegte span op en van die veld af bly. Ons doen ook baie spanbousessies en dit maak dit vir my maklik om in te skakel en ek geniet my rugby op die oomblik.”
Fortune se skopvoet is die afgelope paar wedstryde in die kol en hy het weer sy waarde teen Wits gewys waar hy 6 uit 7 skoppe pale toe mee geslaag het.
“Die plan is om elke wedstryd te verbeter en soveel as moontlik by te dra tot die span se sukses.”




