Die hamer trek suiwer deur die lug en tref die gras van die UJ-atletiekstadion op ‘n verstommende afstand van 64.42 meter. Dit is genoeg om vir die NWU atleet Marga Cumming om haar naam in die rekordboeke te skryf as die nuwe SA rekordhouer in die vroue hamergooi.
Marga het dit opgestel tydens die 2021 USSA Atletiekkampioenskappe in Johannesburg en rond ‘n verstommende seisoen af, waar sy ook as die SA kampioen in hamergooi gekroon is. Dit is ń baie lekker gevoel deur te sien hoe harde werk afbetaal in só moeilike tyd waarin ons onself bevind die afgelope jaar,” noem Marga wat nou nog ‘n Afrika Kampioenskappe ook voor oë het.

“Ek wil baie graag die beste hamergooier wees wat ek moontlik kan wees. So ons wag om te hoor wanneer die CAA Afrika Kampioenskappe gaan plaasvind, waar ek dit as nog ń geleentheid kan gebruik.” Haar roete na die SA rekord kom al ‘n langpad waar sy in ‘n sportmalfamilie saam met haar broer, Alan Cumming, ook die huidige SA kampioen in hamergooi, grootgeword het.

“Ons is ‘n gesin wat mal is oor sport. My pa het goed hekkies gehardloop en my ma het al vele comrades en marathon’s gedoen. So ek en my boetie het grootgeword op die sportveld,” vertel Marga. My pa het hamergooi by ons Hoërskool begin. So het ek en my boetie dit begin doen en oor die jare die passie vir dit ontwikkel en besluit om aan te gaan met dit,” verduidelik Marga wat altyd met twee poniesterte aan kompetisies deelneem wanneer sy gooi. Marga se sukses is ook grootliks toegeskryf aan die legendariese SA kampioen hamergooier, Chris Harmse wat in April 2018 vir Marga en Alan begin afrig het.

“Hy het my al ongelooflik baie gehelp en by gestaan hierdie afgelope 3 jaar,” noem Marga wat ook al die afgelope 5 jaar by NWU atletiek betrokke is. Marga het alreeds haar onderwysgraad by die NWU Vaaldriehoekkampus voltooi en is tans besig met haar honneurs in onderwys vir spesiale behoeftes.
Dis is natuurlik ook vir Marga spesiaal dat sy en haar broer altwee die SA hamergooi titels deel, veral omdat hulle al so lang pad saamstap. “Dis baie lekker om so iets met my broer te deel, ek weet ek kan altyd staat maak op hom om my te help. Met my ma en pa wat baie ondersteunend is, is dit ‘n lekker familiegebeurtenis.”




