Stap is die atletiekdissipline waarin twee van Atletiek Sentraal Noordwes se top atlete, Janise Nell en Marissa Swanepoel vanjaar top uitslae in Suid-Afrika behaal. Nou het hierdie twee top stappers die geleentheid om die wêreld se top eweknieë aan te vat tydens die 2021 o.20 Wêreldatletiekkampioenskappe wat vanaf 17-22 Augustus in Nairobi, Kenia gaan plaasvind.

Beide Janise en Marissa het sonder skroom vir dié kampioenskappe gekwalifiseer na hulle skitterende resultate op plaaslike gebied. Janise het as 17-jarige by die SA kampioenskappe aan die o.20 kategorie deelgeneem en ‘n tyd van 49:42.48 in die 10 000m stap opgestel wat maklik die kwalifiserende teiken van 50:30 oortref het. Marissa beleef ook haar beste atletiekjaar nog en is nog nie vanjaar op eie bodem geklop nie. Sy behaal goue medaljes by die SA kampioenskappe sowel as NWU-atleet by die USSA Atletiekkampioenskappe. Sy spog ook met ’n persoonlike beste tyd van 48:33.52 in die 10 000m stap.

“Ek sien baie uit na die Wêreldkampioenskappe. Ek het baie hard gewerk om te kom waar ek nou is,” vertel Marissa, wat deur Carl Meyer afgerig word.
“Die grootste aspek wat ek vanjaar aan gewerk het was om my kop reg te kry om my doelwitte te bereik. Ek het slimmer geraak tydens wedlope en het selfvertroue om hoog te mik. My plan is om beslis die SA rekord te breek,” noem Marissa.
Janise se naam is ook al vir ‘n geruime tyd op almal se lippe in atletiekkringe vir haar wegholoorwinnings in haar ouderdomsgroep – nou gaan sy teen top atlete deelneem en is slaggereed daarvoor. “Ek sit harde oefening in maar ek weet dat as ek hard werk sal ek bo uitkom. Ek is baie opgewonde en ek wil net my beste gee in alles wat ek doen,” sê Janise.
Janise se doelwit is om haar persoonlike beste tyd van 49:42.48 in die 10 000m stap te verbeter. “My ouers en afrigter (Cobus Groenewald) speel ’n groot rol in my motivering vir alles in my lewe. Ek is dankbaar vir die talent wat ons Hemelse Vader vir my gegee het en wil graag elke oomblik daarvan uitleef,” noem sy.



