Die NWU spiesgooier, Jo-Ané van Dyk, het in haar eerste Olimpiese Spele-item haar goed van haar taak gekwyt in die vroue spiesgooi in Tokio vandag.
In die tweede kwalifiserende groep (groep B) het Van Dyk ondanks ‘n 57.69m gooi, nie die finaal behaal nie en 13de uit 15 deelnemers geëindig.
Die twaalf beste spiesgooiers uit beide groep A en B kwalifiseer vir die finaal. Die top spiesgooier in haar groep was die Amerikaner, Maggie Malone, wat haar spies 63.07 meter laat trek het.

Al is dit teleurstellend dat Van Dyk nie nog ‘n geleentheid in die finaal gekry het nie, bewys dit ook hoe straf die kompetisie op hierdie vlak is. Enkele meters staan tussen sukses en vroeër vlug huistoe.
Om deel van die wêreld se top 30 spiesgooiers te wees en op 23-jarige ouderdom deel te neem was ‘n prestasie op sy eie.
As Van Dyk haar PB lengte kon handhaaf sou sy wel net net kon kwalifiseer. Sy het wel nie die 61-meter merk hierdie keer bereik nie.
Dit is ongetwyfeld dat Van Dyk hierdie ervaring sal gebruik om nog sterker terug te kom vir die volgende Olimpiese Spele oor drie jaar. Haar afrigter, Terseus Liebenberg, is vol lof vir haar vertoning, al bring sy nie ‘n medalje huis toe nie.
“Ek is baie trots op haar. Sy is natuurlik teleurgesteld dat sy nie in die finaal is nie. Dit is haar eerste Olimpiese Spele en sy kan haar kop hoog hou. Dit is die begin van die grotes. By die volgende Statebondspele, Olimpiese Spele en Wêreldkampioenskappe gaan sy verseker ‘n faktor wees.”
“Ek haal my hoed af vir haar. Sy studeer, werk voltyds en oefen ook nog. Sy is ‘n juweel en ons is ongelooflik trots op haar,” noem Liebenberg.





