SportSport

Senutergend! Luiperds wys staal teen Griffons om Curriebeker te lig

Hierdie bekersege op ‘n yskoue aand in Potch sal vir altyd die Luiperds se harte warm laat klop.

Op ‘n woeste winderige Augustusaand het die Luiperds dit reggekry om vir die eerste keer in ses jaar die Curriebeker Eerste Divisie-titel te wen met ‘n naelbyt 19-18 sege oor die Griffons in ‘n rateltaai eindstryd.

Hierdie Vrydag, 13 Augustus sal in die geskiedenisboeke onthou word as een van die beste Curriebeker Eerste Divisie eindstryde op Olënpark met albei spanne wat hulle harte uitgespeel het.

Andre Pretorius vier die Luiperds se bekeroorwinning

Op die ou einde het die Luiperds hulle staal gewys en onder druk in die sleuteloomblikke hulle kampioenmateriaal gewys. Dit is ook Luiperds hoofafrigter, André Pretorius se eerste bekersege as afrigter van die span en welverdiend na ‘n puik seisoen.

Die stryd was van die staanspoor af rateltaai in eerste 20 minute met geen span wat punte aanteken nie. Die wind het ook ‘n sleutelrol gespeel in die wedstryd wat skoppe baie moeilik gemaak het. Die Griffons het sterk aanspraak met hulle rolmaalbewegings gemaak maar die Luiperds se verdedeging het rotsvas gestaan.

Foto’s: Wouter Pienaar

Die Griffons het eerste punte aangeteken met ‘n Jaywinn Juries strafskop, maar die Luiperds het spoedig teruggeveg en tande gewys met ‘n Duren Hoffman drie. Dit was ‘n skitterende lopie van die Luiperds heelagter wat verby drie verdeigers gekom het en met een arm uitstrek om die drie te druk. Danrich Visagie verdoel en die Luiperds loop met 7-3 voor.

Kort daarna is die Griffons se heelagter, Domenic Smit, vir ‘n gevaarlike lak koelkas toe gestuur. Die Luiperds het die spelervoordeel puik benut met skrumskakel Riaan Genis wat oorduik na hulle vir 9 fases die bal gehou het om die telling na 14-6 te bring met die spanne wat met dieselfde telling in half-tyd ingaan.

Die manne van Welkom het druk vroeg in die tweede helfte toegepas, maar kon nie punte op die bord sit nie.

Die Luiperds het gewys hoe ‘n span geleenthede moet gebruik toe die vurige haker, Robey Leibrandt na ‘n rolmaalbeweging oorduik.

Die Griffons het direk daarna in die wedstryd terugeveg met hulle eerste drie toe Granwill Matthys, Dries Truter se skop afstorm om oor te duik. Dit was net die doepa wat die Griffons benodig het.

Nog ‘n drie van Kwhezi Mkafu met 15 minute speeltyd oor het die Griffons mooi laat terugveg met die telling 19-18 in die Luiperds se guns. André Fouché se geelkaart het vir ‘n duikslag bokant die skouer het ook dinge moeiliker vir die Luiperds gemaak. Luiperds se linkervleuel, Eugene Hare het twee geleenthede gehad om die wen vir die Luiperds te verseker, maar kon net nie die bal behou met die doellyn voor hom nie.

Die Luiperds het op die ou einde vasgeklou vir ‘n naelbyt oorwinning toe Matthys oor die kantlyn geduik is met ‘n vlaag Luiperds wat hom dophou. Die Luiperds vaskopstut, Sampie Swiegers, is as die speler vasn die wedstryd aangewys, maar eintlik kon elke speler die toekenning ontvang het, aangesien die Luiperds briljant as ‘n span kopgehou het.

Hierdie bekersege op ‘n yskoue aand in Potch sal vir altyd die Luiperds se harte warm laat klop.

Luiperds: 19 (14)

Drieë: Duren Hoffman, Riaan Genis, Robey Leibrandt

Doelskoppe: Danrich Visagie (2)

Griffons: 18 (6)

Drieë: Granwill Matthys, Khwezi Mkafu

Doelskoppe: Juries

Strafskoppe: Jaywinn Juries (2)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button