Dit was vervloekbaar naby. Té naby. Die NWU Arende het Sondagmiddag hul Varsitynetbal-veldtog 66-65 op hartverskeurende wyse teen die uiteindelike wenners, Kovsies, halt geroep.
In die laaste sekondes van die wedstryd. Héél laaste sekondes. Huil en treur hieroor sal ons nog lank. Maar wat weer eens vanjaar uitgestaan het, was die vernuf van ‘n besondere individu.
‘Determinasie’’ is nie net ‘n vieslike anglisisme nie, dit is ook ‘n byvoeglike naamwoord wat te maklik gebruik word om atlete te beskryf. Dit is ‘n lelike woord. Siesa, ga.

Tog is dit die eerste woord wat opduik wanner pen op papier oor Elsunet du Plessis, die NWU se hoof netbalafrigter, gesit moet word.
Wat anders?
‘Doelgerigtheid’ klink afgewater en ‘beslistheid’ val skeef op die oor. Elsunet is pleinweg gedetermineerd. Sy was nog altyd.

Op die netbalbaan het haar talent en onverskrokke benadering tot die spel haar eweneens ‘n derduiwel en toorkunstenaar gemaak. Om die net was sy teenstanders se nagmerrie, vir spanmaats ‘n droom. Dit is ‘n kombinasie wat van haar ‘n Protea gemaak het. 
“Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek was op pad huis toe toe die Proteas se bestuurder, Nisha Rupnarain, my gebel het. Ek het van die pad af getrek en dit is toe ek hoor dat daar ‘n besering in die groep was en dat ek opgetrek word om Wêreldbeker toe te gaan…dat ek definitief saam Sydney toe gaan. Ek moet sê, aanvanklik kon ek dit nie glo nie en toe is ek verskriklik opgewonde.”
Dit was ‘n Saterdag tussen Potchefstroom en Heidelberg. ‘n Groot dag van langs af: “My ma het netbal afgerig toe ek klein was, so ek het altyd langs die netbalbaan gesit en gekyk hoe sy afrig, of ek het saam met die groter kinders gespeel.”
As sy nie by netbal betrokke is nie, is sy in Heidelberg op die perd Style se rug, ’n Clydesdale-kruising van Skotse herkoms.

Tuis in Potchefstroom is haar genot haar bank, ‘n boek en haar twee worshonde, Ferdinand en Mila. En musiek. Mumford & Sons en Tim McGraw. Country-musiek vir die plaasnooi wat steeds die veld in haar hart het. En dan, haar kos. Voorgereg, hoofgereg en poeding vir haar siel:
“In netbal ding jy mee saam met ander mense. Jy groei saam met ander mense.” Sy lag: “Alhoewel ek eintlik ‘n groot introvert is en baie op my eie is, dink ek dit forseer my om my met ander mense te deel…te groei in myself en myself uit te daag. Sukses word aan saamwerk gemeet en almal het ‘n aandeel daarin.”

Nog meer as mentor wat ‘n nalatenskap vestig: “As afrigter hou ek daarvan om te sien dat ‘n speler hardwerkend is en ‘n spanspeler is. Op die einde van die dag doen jy dit nie net vir jouself nie, maar ook vir die persoon langs jou. Ek sê altyd vir my spelers as jy jou werk goed doen, die persoon langs jou ook gaan goed lyk. So speel om die persoon langs jou soos ‘n superster te laat lyk. Nie net by haar spelers nie, maar ook by die NWU:
“Ek wil aanhou om die kultuur wat besig is om gevestig te word, uit te bou. Ons wil nie net beter spelers maak nie, maar mense ook.”
Koersvas boontoe.
‘Koersvas’ is ‘n mooi woord.






