
Hoër Volkskool Potchefstroom se eerstespan het koning gekraai teen Potchefstroom Gimnasium in Sondag, 5 September se belangrike NW ligawedstryd. Volkies se eerste span het in ‘n taai wedstryd waar die lopies moeilik was, vir Gimmies op die Gimmie-Oval met 4 paaltjies geklop.
Volkies se middelorde kolwer, Corné Prinsloo slaan ‘n onoorwonne 85 (109) om vir Volkies oor die lyn te vat met die telling op 196/6. Gimmies kon vroeër 192 aanteken, met Martin van Onselen wat ‘n pragbeurt van 77 (49) speel. Daar was ongelukkig nie genoeg bystand van die ander kolwers nie, met Volkies wat gedurig paaltjies neem om die moontlike momentum te breek.
Martin Bullock se 22 was die tweede hoogste telling wat Gimmies se kolwers kon oplewer. Volkies se Stephan Fourie (3/16) het twee belangrike BVP beslissings in sy guns gekry wat die wedstryd na sy span se kant geswaai het. Corné Nel (2/33) het ook pragtig geboul op die dag waar elke Volkie bouler hulle kant gebring het.
Gimmies het geweet dat hulle op hulle stukke moet wees om hulle totaal te verdedig. Die aanvangsboulers, Johan Mahne (1/37) en Bullock (2/33) was ekonomies en het hul goed van hul taak gekwyt. Niel Jansen van Vuuren, wat sy eerste wedstryd na ‘n lang besering gespeel het, is eerste uit vir 11 met Bullock wat hom in die lug laat dryf.
Waldo Kemp (23) en Ruben Crous (24) is ook kort daarna terug kleedkamer toe, maar Prinsloo bly staan en met hom wat die beurt anker was Volkies nog in ‘n goeie posisie.
Foto’s: Wouter Pienaar
Toe Ludwich Schuld en Nel hulle paaltjies albei met die telling op 138 verloor, was Gimmies se kans daar om deur te breek. Prinsloo het wel aangehou om die lopies regoor die veld aan te teken en met Stephan Fourie se 18 het hulle ‘n baie belangrike 45 lopie venootskap vir die sesde paaltjie aanmekaar gesit. Dit was al wat Volkies nodig gehad het om ‘n sege te verseker.
Lees meer oor die o.15A wedstryd hier, wat Volkies met 8 paaltjies gewen het.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/92402/volkies-se-o-15s-klop-gimmies-gemaklik/












