Laerskool Mooirivier se o.13A-netbalspan het talent bewys met ‘n tweede plek in die SA Skole Netbalkampioenskappe die afgelope Saterdag, 25 September.
Die eerste wedstryd in die poel het Mooirivier teen Helderkruin verloor, maar het daarna stoom opgetel, losgetrek en die ander drie spanne gemaklik gewen.
Die onderskeie tellings was soos volg: ‘n 27-7 wen teen Mbonambi, wen 17-11 teen Pietersburg-Oos en ‘n 18-5 teen Khulasizwe.
Na die poelwedstryde lê Mooirivier 2de en speel in die kwartfinaal teen Randhart. ‘n Taai wedstryd, maar die dogters wen 20-16 om ‘n plek in die halfeindstryd te behaal.
Volgende is Vastrap, nog ‘n Noordwes teenstander, maar Mooirivier staan nie een oomblik terug nie en wen hierdie naelbyt wedstryd met 15-13.
In die laaste wedstryd speel Mooirivier teen Constantia Park van Pretoria. Die dogters toon uithouvermoë en hul harde werk kan geprys word, maar eindig die toernooi met ‘n silwermedalje.




