
Hoër Volkskool Potchefstroom se top krieketmanne gaan vanaf 14 tot 17 Oktober die Noordwes met trots in Pretoria by die gesogte 2021 Noord/Suid Skole T20-kriekettoernooi teen 15 van die land se top krieketskole verteenwoordig.
Volkies se krieketspan is weer uitgenooi na hierdie toernooi en sal vanjaar verder wil vorder as ooit tevore met ‘n klomp talentvolle spelers.
Agt skole uit die noorde en agt uit die suide van die land gaan om die trofee meeding, met ‘n R50 000 kontantprys en trofee wat vir die wenners wag.
Volkies is geloot in groep B teen Westville Boys High (Durban), Rondebosch Boys High (Kaapstad) en die verdedigende wenners (Hoërskool Centurion). Volkies se eerste wedstryd is vandag, 14 Oktober teen Rondebosch Boys High, voordat hulle op dieselfde dag teen Westville Boys High en Centurion te staan kom. Dit is ‘n moeilike groep, maar Volkies het die skietkrag om ‘n paar skole te verras.
Andries Huisamen en Mighael de Beer sal die span afrig Stephan Fourie sal die span as kaptein aanvoer met Niel Jansen van Vuuren wat tweede in bevel sal wees vir hierdie toernooi.
Fourie se draaiballe sal een van Volkies se troefkaarte wees, met Jansen van Vuuren se kolfwerk bo-aan die kolforde, wat ook ‘n sterkpunt is. Corné Prinsloo se veelsydigheid as middelorde kolwer en medium swaaibouler maak die Potchefstromers se aanslag ook sterk.
Hier is Volkies se span vir die 2021 Noord-Suid T20 Skolekrieket-toernooi:
Die linkerhandse kolwer, Ludwig Schuld is ook in goeie vorm terwyl Corné Nel ook ‘n bal ver kan laat trek met sy aggressiewe kolfstyl. Die eindstryd gaan Sondag, 17 Oktober by Camp Discovery plaasvind.
Ter voorbereiding van die Noord/Suid-toernooi het Volkies tydens vriendskaplike wedstryde die afgelope naweek bewys dat hulle gereed is vir die uitdaging. In die eerste wedstryd teen Centurion wen Volkies die loot en stuur Centurion in om te kolf. Hulle teken 159 lopies in 12,2 beurte aan. Volkies teken die wenlopies in die 19de boulbeurt aan om met een paaltjie te wen.
Uitblinkers met die bal vir Volkies is Corne Prinsloo 2/20 in 4 beurte en Dian Liebenberg met 2/24 in 4. Met die kolf is dit Waldo Kemp se 59 van 41 balle wat uitstaan. Tydens die eerste T20 wedstryd teen Hoërskool Marais Viljoen, wen Volkies weer die loot en besluit om te boul. Marais Viljoen teken 171/4 in die 20 toegelate beurte aan met Lunga May van Volkies wat met 2/23 uitblink.
Volkies gaan kolf en verloor ook 4 paaltjies voordat die wenlopies in 19 boulbeurte aangeteken word. Niel Jansen van Vuuren se 48 (30 balle) en Corne Prinsloo 46 nie uit nie (37 balle) staan uit. Volkies wen met 6 paaltjies.
In die tweede wedstryde kolf Volkies eerste en teken 220/7 aan, danksy Corne Nel se 70 (38 balle) en Corne Prinsloo se 37 (23 balle). Marais Viljoen word beperk tot 177/7 in die 20 boulbeurte en Volkies wen met 43 lopies. Attie Liebenberg se 3/26 in 4 beurte staan uit onder die boulers.
Die deelnemende skole se groepe in die Noord/Suid T20 Skolekrieket-toernooi lyk soos volg: Groep A: Hoërskool Menlopark, Grey Kollege Bloemfontein, Marais Viljoen en St Andrew’s College. Groep B: Volkies Potchefstroom, Rondebosch Boys High, Hoërskool Centurion, Westville Boys High Groep C: Hoërskool Waterkloof, Wynberg Boys High, St Andrews School (Bloemfontein) en Grey High (Port Elizabeth). Groep D: Hoërskool Nelspruit, SACS, Hoërskool Rustenburg en Northwood High School.


















