Bownes se blits mik vir nog medaljes teen wêreld se bestes
Olivier se doelwit is om weer vir die Junior Wêreld Atletiekkampioenskappe in die 100 en 200 meter te kwalifiseer en met Shaun Bownes wat bankvas agter hom staan, is die kanse goed dat die atletieklandskap nog baie van hierdie jong man sal hoor.
Dit is nie vreemd dat die voormalige SA hekkiesatleet, Shaun Bownes, nou ook met sy afrigting top gehalte atlete lewer wat op die tartanbaan presteer nie.
Een van die nuutste vondse in Bownes se stal is die jong 18-jarige Henru Olivier, ‘n spoedvraat wat vanjaar tydens die 4x100m aflos ‘n goue medalje in spanverband by die Wêreld Jeug Atletiekkampioenskappe in Nairobi verower het. Olivier is tans ‘n matriekleerder aan Hoërskool Klerksdorp en een van ACNW se groot talente wat volgende jaar (2022) in die pers en wit van die NWU in Potch sy reputasie sal wil vergroot.
Die kanse is goed dat hy van krag tot krag sal gaan onder Bownes se afrigting, as ‘n mens na sy persoonlike beste tye kyk.


In die 100 meter is dit 10.36, die 200 meter 21.02 en in die 60 meter 6.74 – almal blitsvinnig. By die SA Skolekampioenskappe het hy twee derde plekke in die 100 en 200m behaal en in die SA Senior Atletiekkampioenskappe het hy ‘n negende plek behaal.
“Om aan die wêreldkampioenskappe deel te neem was ongelooflik. Om al die atlete van verskillende lande te sien was iets anders,” noem Olivier wat ongeveer ‘n jaar al by Bownes oefen. “Dit help my baie om saam met die top atlete te oefen in die groep. My tegniek het ook baie onder hom (Bownes) verbeter,” vertel hy.
Olivier se doelwit is om weer vir die Junior Wêreld Atletiekkampioenskappe in die 100 en 200 meter te kwalifiseer en met Shaun Bownes wat bankvas agter hom staan, is die kanse goed dat die atletieklandskap nog baie van hierdie jong man sal hoor.
“Dit is baie maklik om met ‘n ou soos Henru te werk. Hy is gemotiveerd om na die volgende vlak te gaan. “Hulle het die natuurlike talent en ‘n passie vir die sport. Op die ou einde is dit net ‘n plesier om hom af te rig en hom by sy doelwitte te kry. Hy het baie toewyding en stap die ekstra myl – sy prestasies spreek vanself,” noem Bownes.




