SportSport

Gimmies wys hoekom hulle die Interkampioene is

In totaal behaal Gimmies 62 medaljes wat uit 28 goud, 12 silwer en 22 brons bestaan.

Die Interhoërbeker bly in Potchefstroom Gimnasium se hande na ‘n briljante spanpoging om die ander sewe skole by die NW Grootskole Interhoër Saterdag, 12 Februarie te stuit.

Gimmies behaal die oorwinning met 36 punte teen Hoërskool Rustenburg in die tweede plek. Hoërskool Klerksdorp behaal die derde plek op die dag.

Die kompetisie was deurgaans straf en die spanning hoog met niks wat die skole kon skei nie. Skole het gereeld plekke geruil soos die atlete van elke skool uitsonderlike prestasies behaal het.

Een van die deurslaggewende oomblikke vir Gimmies was met die aflosse waar vier van hulle spanne eerste plekke behaal het.

Dit was ‘n spanningsvolle laaste aflos-item. Hier is Sandri van Rooyen besig om die aksie dop te hou.

Ander top individuele prestasies wat Gimmies na die titel gelei het kom uit die talent van Armand Willemse (senior victor ludorum), Righardt Joubert (junior victor ludorum) en Sandri van Rooyen (senior victrix ludorum). Willemse, Gimmies se atletiekkaptein, het goud in die o.19 spiesgooi (68.19 meter) en diskus (44.93 meter) en silwer in gewigstoot (14.87 meter) behaal.

Joubert het bewys watter groot talent hy vir die toekoms is met goud in die seuns o.14 100m hekkies (13.52 sekondes), 100m (11.60 sekondes) en verspring (6.11 meter).

Joubert behaal ook Interhoër rekords in 100m hekkies en verspring en lei die o.14 aflosspan na goud.

Van Rooyen behaal vier goue medaljes (dogters o.16 100m, 100m hekkies, 200m en 4x100m aflos) en bewys hoekom sy as die senior victrix ludorum aangewys is.

In die dogters 100m behaal sy ‘n nuwe inter-rekord van 12.10 sekondes. In die 200m kom sy eerste met 25.01 sekondes en in die 100m hekkies maak sy klaar in 14.41 sekondes.

Jamore Olivier was een van Gimmies se sterre.

Ander Gimmie dogters wat rekords verbeter is Jamoré Oliver (dogters o.15 gewigstoot – 14.30 meter), Stephané Hook (dogters o.14 spiesgooi – 39.60 meter en gewigstoot – 13.13 meter), Riandi Boshoff (dogters o.19 diskus – 45.09 meter) en Lee-Ann Grobbelaar (dogters o.19 spiesgooi – 39.65 meter).

By die Gimmie seuns breek Sihle Mahlangu in die o.16 hoogspring-item ook die rekord met ‘n sprong van 1.96 meter – ‘n volle 26 cm hoër as sy naaste teenstander.

Die langasem, Rico Leijenaar behaal ook ‘n rekord vir Gimmies in die seuns o.17 1500m met ‘n tyd van 04:06.16. Leijenaar voltooi ‘n goue driekuns met goud in die 800m en in die 3 000m-items.

In totaal behaal Gimmies 62 medaljes wat uit 28 goud, 12 silwer en 22 brons bestaan. Lea Verster sorg vir ‘n hoogtepunt vir Volkies met drie goue medaljes in die dogters o.15 300m hekkies (45.91 sekondes) en 90m hekkies (13.77 sekondes) en verspring (5.33 meter)-items.

Finale puntetotale: 1. Potchefstroom Gimnasium – 2571.5

2. Rustenburg Hoërskool – 2535.5

3. Hoërskool Klerksdorp – 2387.5

4. Hoërskool Wesvalia – 1997

5. Hoërskool Lichtenburg – 1665

6. Potchefstroom Volkskool – 1574.5

7. Girls High – 418

8. Potchefstroom Boys High – 200

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button