Die NWU Arende was hulle eie grootste vyand, Maandagaand (21 Maart) tydens hulle Varsitybeker wedstryd teen Maties. Die NWU het meeste van die balbesit en gebiedsvoordeel gehad. ‘n Groot hoeveelheid hanteerfoute, en lynstane wat gesukkel het, het gemaak dat die Potchefstromers net nie oor die doellyn kon kom nie. Daar was meer as genoeg kanse wat nie afgerond is nie. Die eindtelling van 20 – 12 weerspieel nie die ware maat van die wedstryd nie. Die afrigters by Maties sal voel dat hulle maar baie gelukkig was om die kragmeting te wen. Die NWU het eerste bloed getrek deur hul kaptein, Sampie Swiegers. ‘n Drie waarvoor die NWU baie hard gewerk het. Kort daarna het die Maties met ‘n soortgelyke drie geantwoord. Baie kanse is intussen in die eerste helfte deur die NWU verspeel. Die Maties buitessenter, Waqar Solaan het ‘n vernietegende lyn gehardloop om die NWU verdediging, wat op die aand goed was, oop te kerf. Twee strafdoele later, en ‘n halftyd telling van 20 – 7 het die Maties se punte op gedroog. Groot gedeeltes van die eerste helfte en bykans die hele tweede helfte het die NWU al die Rugby gespeel. Maties het dit nie vir die Potchefstromers maklik gemaak nie, en kort-kort is die perstruie op die doellyn gestuit. Swiegers is weer oor in die tweede helfte. Martin Venter, wie vir Nevan Peterson op losskakel vervang het, kon nie die ekstra punte laat tel nie. Hy het ook later ‘n strafskop gemis.
“Ons was nie klinies genoeg nie, ons het baie kanse gehad veral in die eerste helfte. Maar ek is trots op die ouens, oor hoe hulle aanhou baklei het en dit amper deurgehak het,” het Swiegers na die wedstryd gesê. Ware woorde van die kaptein, daar was geen teken van opgee van die NWU se kant af nie en het tot in die laaste minuut aan veg. Hulle kon terug Potch toe sonder enige punte uit die wedstryd. Met slegs drie wedstryde oor voor die uitkloprondtes is die NWU se lot nie meer in hulle eie hande nie. Hulle sal hulle oorblywende wedstryde moet wen, en hoop dat van die ander spanne hulle wedstryde verloor.



