Veggees was in volle glorie uitgebeeld toe die NWU (Noordwes Universiteit) se Varsity Netbalspan met ‘n uitstaande terugvegpoging vir Kovsies in die half-eindstryd vanaand (Maandag, 10 Oktober) met 64-61 geklop het.
Foto’s: Hannes Naudé/Asem Engage
Die NWU was vir omtrent die hele wedstryd agter teen Kovsies. Op ‘n stadium was die Bloemfonteiners met 9 punte voor.
Steeds het die vroue in pers en blou vasgebyt en vasgeklou totdat hul in die 51ste minuut die voortou geneem het.

Met die telling op 49-49 met 8 minute oor kon die wedstryd steeds enige kant toe gegaan het.
Die NWU het hulle kragspel (Powerplay) tot hul voordeel getrek en die wind uit Kovsies se seile geblaas met ‘n briljante laaste 10 minute.
Die energie van die reisende NWU ondersteuners het die Callie Humansaal in Bloemfontein amper in ‘n tuisbaan vir die NWU verander.
Getooi in turkoois hemde het hierdie ondersteuners met sang en krete gedurig hulle universiteit aangespoor.

Dit was beslis een van die beste terugvegpogings in die toernooi se geskiedenis asook ‘n bewys dat hierdie span nie opgee nie en tot die einde toe baklei. Nou wag ‘n eindstryd teen Maties of UJ.
Lucy Strydom (hulpdoel) en Elmeré van der Berg (doel) was van die NWU se sterre in die laaste kwart en het kritieke doele onder hoë druk gesink.
Keke Molotsi se bydrae met puik aangeë was ook treffend en het die NWU op die voorvoet gehou.

Die blydskap op die span en afrigters se gesigte was tekenend van hoe baie hierdie oorwinning vir die NWU beteken het.

NWU hoofafrigter, Elsunet du Plessis, was oorstelp met vreugde na die oorwinning.
“Dit was ‘n ongelooflike wedstryd. Die skare en ondersteuners was ook ongelooflik. Ons moet net seker maak om die basiese goed reg te doen en ons spelpatroon te speel. Vir nou gaan ons net eers vanaand se wen geniet!,” het sy na die wedstryd genoem.










