Potchefstroom Dorp Krieketklub se eerste span het die afgelope Saterdag (25 Februarie) vir Impala Precrete ‘n krieketles geleer met ‘n 123 lopie oorwinning in die Noordwes Premier Klubkrieketliga.
Goeie vertonings met beide kolf en bal was meer as genoeg vir Potch Dorp om die sege te kon behaal.
Met die kolf slaan die voormalige Volkie, Christiaan Bester 67 (82) 3 viere en 2 treffende sesse ingesluit het. Niel Jansen van Vuuren moker 35 (40) met Hanro Swanepoel wat ook met 34* (24) die lopietempo opgestoot het om ‘n totaal van 239/7 te kan bereik.
Foto’s: Wouter Pienaar
Impala se Estiaan Schoenfeldt (2/48) en Ferdi Snyman (1/39) is die besoekers se beste boulers op ‘n snikhete dag.
Impala se kolwers het nie hul beste vertoning gelewer nie en is almal uit vir 116. Stiaan Swanepoel wys veggees met 51 (48) maar die res van die kolwers laat hulle span erg in die steek. Impala se laaste sewe paaltjies val vir slegs sewe lopies in ‘n geweldige kolfineenstorting.
Die oud-Gimmie, Xander van Gass, behaal 5/19 in 10 boulbeurte in sy beste boulvertoning nog vir Dorp.
Die bestendige snelbouler, JP le Roux, wys sy ervaring met 2/7 in vyf boulbeurte. Die draaier en oud-Volkie, Van Zyl Smit neem 3/34.















