Die bekende Potchefstroomse meestersatleet, Yolande du Toit, gaan vanjaar na drie en ‘n halwe dekades in atletiek, haar laaste groot kompetisie aanpak.
Du Toit gaan op ‘n hoogtepunt uit wanneer sy in November vanjaar haar land in die Afrika Meesters Atletiekkampioenskappe in Kaapstad by die Groenpunt-stadion gaan verteenwoordig.
“Ek gaan dan daar deelneem aan die 80m hekkies en 100m vroue wedlope (40-44 afdeling) en hoop om my loopbaan goed af te sluit en ‘n medalje huistoe te bring,” noem Du Toit.
Haar passie vir atletiek strek al oor die afgelope 36 jaar sedert sy haar atletiekloopbaan in 1988 by Asjassies Kleuterskool as ‘n dogtertjie met groot drome begin het. Sy was in 1989 in Laerskool Mooirivier in graad 1, maar moes toe na Laerskool M.L. Fick oorskuif toe sy as kind verhuis het.

“In 1992 is ek na M.L. Fick toe en kry afrigting by juffrou Ciska Kruger. Sy het my geleer hekkies hardloop. In 1996 begin ek my hoërskoolloopbaan by Volkskool en dit is daar waar ek en my afrigter (Daan Seymore) besluit om die 400m hekkies aan te pak,” noem Du Toit.
Dit was toe ‘n geniale besluit, want Du Toit wen in 1999 beide die ASA en SA skolekampioenskappe vir dogters o.17 400m hekkies. Sy breek die SA rekord in die 400m hekkies vir dogters o.17.

“In dieselfde jaar word ek ook gekroon as die Stadsraad se Sportvrou van die Jaar,” vertel Yolande, wat toe ongelukkig in die draai van die nuwe millennium in 2000 weens ‘n gekraakte rugwerwel nie op haar beste was nie.
Na skool besluit Yolande om aan te hou met atletiek en nou het sy ‘n glorieryke CV propvol medaljes deur die jare.
“Ek neem al 11 jaar deel aan die meestersatletiek vir atlete 30 en ouer, en verdedig vir 10 jaar lank my titel in die 100m en 200m. In 2022 besluit ek ook om die 80m hekkies vir vroue 40 aan te pak. Vroeg in 2023 kwalifiseer ek dan ook vir die 80m hekkies vroue 40-44, en is ek tans nr 1 op die wêreld ranglys in die onderskeie item. Ek kwalifiseer dan ook in 2022 vir my nasionale klere in die 100m en 200m vir vroue 35-39,” noem sy verder.
Volgens Du Toit was daar talle uitdagings in haar loopbaan en dat harde oefening nie altyd so maklik is nie. Tog het het haar liefde vir atletiek haar laat aanhou, totdat ‘n ernstige besering haar laat besluit het om hierdie hoofstuk van haar lewe te sluit.
“Op die ou einde as ek terugkyk dan sien ek al die prestasies van harde werk wat beloon word. Baie dankie vir almal wat my ondersteun het deur die 36 jaar, my familie,vriende, sowel as my huidige afrigter Shaun Bownes,” noem sy.






