Netbalkoors was in die lug die afgelope naweek vanaf 28-29 Julie by Hoër Volkskool Potchefstroom toe die 24ste Irene Seymore Volkie-netbaltoernooi aangebied is.
Die opwinding was groot met 21 skole vanuit 6 provinsies en twee lande (SA en Namibië) wat mekaar op 10 netbalbane aangepak het.
Dit sluit in 80 spanne, 700 netbalspelers en 170 beamptes. Die Irene Seymore netbaltoernooi het in 1998 as die Coke-toernooi ontstaan, maar het oor die afgelope vyf jaar verskeie naamveranderinge ondergaan voor dit na die stigter van dié toernooi, Irene Seymore, vernoem is.
Foto’s: Wouter Pienaar
Seymore is ‘n Volkie-legende wat sinomien met netbal by hierdie skool is. Die toernooi is oorspronklik in 1998 begin om aan die netbalspanne in die Noordwes provinsie ekstra oefening te gee ter voorbereiding vir die Noordvaaldag.
In 2023 is hierdie toernooi een van die opwindenste netbaltoernooie in die land wat spelers kans gee om hulle talente uit te leef en ook in die kameraderie van die sport te deel. Die meeste deelnemende skole gebruik hierdie toernooi as voorbereiding vir die Suid-Afrikaanse Skolekompetisie of as ‘n hoogtepuntafsluiting op ‘n propvol netbalseisoen.

Die afgelope naweek is Hoërskool Monument is die o.14 wenners, Helpmekaar-kollege is eerste in die o.15 en o.16 ouderdomsgroepe, terwyl Hoërskool Noordhuwel se o.17’s koning kraai in hulle afdeling. By die eerste spanne (o.19) lig Hoërskool Menlopark die trofee. Menlopark is ook as die algehele wenskool aangekondig.
Volkies se o.14, o.16 en o.19 spanne eindig onder die top tien in hulle ouderdomsgroepe. Die o.14’s en o.16’s is agtste terwyl die o.19’s in die sewende plek eindig.
Vanjaar is daar ook verdere veranderinge aan die trofees wat aan die verskeie ouderdomsgroep wenners toegeken word.
Elke trofee bevat die naam van ‘n speler of afrigter wat Volkies met trots verteenwoordig het:
- o.14: Iné-Mari Venter – Huidige Protea-netbalspeler (D en HD)
- o.15: Elsunet du Plessis – Protea-speler (D en HD)
- o.16: Amanda Mynhardt – Protea-speler (V en HV)
- o.17: Me. Judy Roux – Volkie-onderwyser en -afrigter vir 24 jaar
- o.19: Me. Irene Seymore – Volkie-onderwyser en -afrigter vir 31 jaar

Uitstaande spelers in doel, senterbaan en verdediging:
o.16 Dogters:
Beste Doel: Luane Human (Helpmekaar)
Senterbaan: Ijanke Naude (Helpmekaar)
Verdedigende speler: Kimberley Amiras (Helpmekaar)
o.17 Dogters
Beste Doel: Storm Smith (Noordheuwel)
Senterbaan: Carli Willemse (Noordheuwel)
Verdedigende speler: Simone Rooiberg (Noordheuwel)
o.19 Dogters
Beste Doel: Carla du Plessis (Menlopark)
Senterbaan: Megan Erasmus (Menlopark)
Verdedigende speler: Kaylie Broodryk (Garsfontein)


















