Die tafel is gedek vir die grootste skole krieketstryd vanjaar wanneer Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste krieketspanne hierdie komende Saterdag, 2 September op die Gimmie-Oval mekaar gaan aanpak.
Daar is meer as net spogreg op die spel tussen hierdie twee trotse Potchefstroomse skole. Hierdie Noordwes o.19A 50-beurt ligawedstryd sal ook grootliks bepaal wie die liga kan wen en die naaswenner plekke inneem, aangesien daar nie ‘n finaal is vanjaar nie en ligapunte die wenner bepaal.
Ten opsigte van die Noordvaalbeker wat na afloop van die Noordwesliga plaasvind, is dit belangrik wie die liga wen, aangesien die wenners tuis teen ‘n skool van Limpopo in die eerste rondte sal uitspeel, terwyl die naaswenners teen die wenners van die Limpopo skoleliga sal moet speel.

Vir eers sal beide Gimmies en Volkies hul fokus doelgerig op Saterdag se kragmeting moet plaas.
Albei spanne speel top krieket en op papier lyk dit soos ‘n wedstryd wat werklik enige kant toe kan gaan.
Volkies het baie goeie herinneringe van die laaste keer wat die spanne in die NW-liga teen mekaar op die Gimmie-Oval gespeel het.
Op daardie dag verlede jaar het Volkies vir Gimmies geklop om die NW-titel te lig.
Vir Gimmies is dit gedane sake en hul sal Volkies wil wys dat hulle geen letsels van daardie dag hou nie.


Gimmies se sterkpunte lê in hul twee aanvangskolwers, Marnu Cronjé en Tommie Botha, wie se spelpeil op goeie dreef is. Cronjé en Botha sal ook ‘n groot rol met hul draaiballe speel.
Righardt Joubert kan ‘n bal ook ver moker en as sy oog in is, kan hy dit moeilik vir Volkies maak.
Caiden Seleka is ook ‘n kolwer met baie talent wat in die middelorde dopgehou kan word. Die tuisspan se boulaanval bevat ook die snelboulers, Margeo Joubert en Jonathan Eybers, wat Volkies kan laat kopkrap.
Joubert is veral ‘n lang en lenige snelbouler wat die geneigdheid het om paaltjies te vat.
Volkies se kaptein, Ludwich Schuld, is beslis sy span se anker met die kolf en sy paaltjie sal vir Gimmies goud werd wees.
Schuld, ‘n SA o.19 speler, is vanjaar in ongelooflike vorm en het reeds vier honderdtalle aangeteken. Hy het verlede naweek teen Hoërskool Lichtenburg 114 aangeteken om sy span na ‘n 197-lopie oorwinning te neem.
JM Visser en Louis van Wyk kan ook beslis met die kolf bydra, terwyl Attie Liebenberg en Janco Moolman stabiliteit in die middelorde bring.
Nog ‘n groot pyl in Volkies se koker is hul boulaanval wat deur die draaiers, Dian Liebenberg en Diaan van der Merwe, aangevoer word.
Diaan wat linkerarm draaiballe boul en Dian wat regterarm wegbreekballe boul is ‘n gevaarlike kombinasie as hul in tandem kolwers met vlug en draai klop.
Volkies se snelboulers, Lunga May, Berno de Klerk en Kobus Pienaar kan ook gereken word om variasie in die boulaanval te bring.
* Die o.19A wedstryd tussen hierdie twee skole vind om 10:00 op die Gimmie-Oval plaas.
* Die o.15A wedstryd tussen Volkies en Gimmies vind om 10:00 by Volkies plaas.



