Gimmies se o.15A krieketspan was net een te veel vir Hoërskool Wesvalia met ‘n massiewe 253 lopie oorwinning tydens die NW-liga wedstryd op Dinsdag 29 Augustus.
Die platvorm vir Gimmies se oortuigende oorwinning op die Gimmie-Oval is geskep deur ‘n honderdtal van Ulrich Botha (105 van 90 balle) sowel as ‘n vyftigaltal van Jahndre Coetzee (51) in hul groottotaal van 298/9.
Gimmies se boulers vat wel die koek met hulle uitstekende boulwerk in fantastiese spanpoging om Wesvalia vir net 45 uit te boul.
Geen kolwer kon meer as sewe lopies slaan nie met bylopies (13) wat die hoogste puntemaker was.
Coetzee (2/22), Thlone Thabatha (3/15), Henre Cronje (2/6) en Ruhann Steenkamp (2/8) baljaar onder die paaltjies vir Gimmies.
Gimmies se o.14A span het in die 20-beurt o.14 liga na hul nederlaag teen Volkies verlede week, weer op die wenpad gekom met ‘n 7 paaltjie sege teen KHS.
Gimmies beperk KHS, wat eerste kolf, tot 89 almal uit. Lukas Kotze (0/9) in drie boulbeurte, Damian Kruger (2/19) in drie boulbeurte en Ruben Jonker (2/6) in twee boulbeurte skitter vir Gimmies met die bal.
Met die kolf in hul hand is die Potchefstromers ook kookwater met Kotze se onoorwonne 38 (34 balle) wat die weg na ‘n gemaklike wen baan.
Gimmies bereik die teiken met 29 balle oor.