Vir die eerste keer vanjaar het die NWU se Varsity Netbalspan aan die verloorkant geëindig nadat hulle met 67-52 teen Tukkies gisteraand (Maandag, 4 September) die knie moes buig.
Tukkies was uitstekend op die aanval met die doel Alice Kennon wat met ‘n 94 persent doelgemiddeld die telbord konstant laat beweeg het. Tukkies het alreeds ‘n 36-22 voorsprong teen half-tyd gehad en toe nie teruggekyk nie.
Foto’s: Luigi Bennett/Asem Engage
Die NWU het hulle bes probeer om by te bly, maar kon net nie genoeg aanvallende momentum kry nie.
Die Proteas doel, Elmeré van der Berg, het ook haar eerste wedstryd van die toernooi gespeel, maar kon nie genoeg doen om die NWU na ‘n oorwinning te neem nie.
Volgens NWU afrigter, Elsunet du Plessis, het hul nie hul beste vertoning teen Tuks gelewer nie.
“Ons het nie genoeg opsies op aanval gegee nie, wat dan veroorsaak het dat ons besluitneming swak was. Ons sal moet werk aan ons aanval en om bal besit te behou,” het sy genoem.
Die NWU sal nou teen die Universiteit van Johannesburg (UJ) te staan kom in die half-eindstryd op Maandag, 11 September.
Die wedstryd sal by UJ om 17:00 plaasvind.








