Blink toekoms wink vir jong rolbalspelers
Dit is voorwaar gerustellend om getuie te wees van die herlewing van 'n sport wat eenmaal as old man marbles geag was.
Vroeër hierdie jaar is berig van Lezandri Hildebrand (18) en haar uitsonderlike prestasie om Rolbal Suid-Afrika se Junior Meesters Dames (onder 30) kompetisie te wen.
Hoewel sy aanvanklik op die ouderdom van nege jaar aan die sport bekendgestel is, het sy eers in 2019 op die ouderdom van 14 jaar kompeterend begin meeding. Hierdie 18-jarige is ‘n lid van die Potchefstroom Buiteklub (PCC) Rolbal afdeling en het al menige mylpale in haar rolballoopbaan bereik. Oor die afgelope drie jaar het Lezandri twee maal as naaswenner en meer onlangs as wenner van die Noordwes Dames Ope Meesters Kampioenskap uitgetree. Die provinsie erken haar besonderse talent en kies haar vir die Noordwes Dames A-spanne vanaf 2022, die eerste junior dame wat hierdie geleentheid gebied word. Gevolglik word sy ook opgeneem in die ontwikkelingsprogram van Rolbal Suid-Afrika genaamd die ‘Green Squad’ wat ten doel het om spelers te ontwikkel vir deelname op Internasionale platforms.
In dieselfde jaar word sy vir die eerste keer genooi na die gesogte Rolbal Suid-Afrika Meesters kampioenskappe vanwaar sy ongekende vordering toon om haar teenstanders tydens vanjaar se kampioenskap uit te stof vir die gouemedalje.
Dit is juis tydens die mees onlangse ‘Green Squad’ kamp wat Mnr David Hamer, President van Rolbal SA aan Lezandri Hildebrand en Alwyn Martignone (Gauteng Rolbal en voormalige lid van Potchefstroom Buiteklub) hul Nasionale Junior Protea-kleure oorhandig het. Hierdie twee gaan dus Suid-Afrika verteenwoordig tydens die opkomende World Indoor Bowls Championships in Hong Kong tussen 2 en 8 Desember.
‘n Ander junior lid van PCC wat voortdurend opslae maak is Thinus van Zyl (21). Hierdie jongman neem die spel aanvanklik op in 2016 om meer tyd te spandeer saam met sy pa, self ‘n provinsiale speler vir Noord-Vrystaat.
Sy natuurlike talent kan egter nie misken word nie en hy word reeds in 2018 vir die Noord-Vrystaatse junior provinsiale span verkies. Thinus se prestasies groei egter met rasseskrede nadat hy in 2021 na Potchefstroom verhuis en by die Buiteklub se rolbal afdeling aansluit.
Oor die afgelope paar jaar behaal hy deurgaans medalje posisies in Noordwes kompetisies wat die junior sowel as ope kategorieë insluit. So ook word hy verkies tot die Noordwes Mans A-span in 2023, stap uit as gouemedalje wenner van beide die NW Junior Mans Meesters én Ope Mans Meesters Kampioenskappe in 2024 en word opgeneem in die vername ‘Green Squad’ vir Rolbal Suid-Afrika.
Hy verwesenlik uiteindelik een van sy grootste drome deurdat hy ook in 2025 aan die Rolbal SA Junior Mans Meesters kampioenskap gaan deelneem.
Dit is voorwaar gerustellend om getuie te wees van die herlewing van ‘n sport wat eenmaal as old man marbles geag was. Die nuwerwetse speelstyl en -standaard is kennend van die gemoderniseerde ommeswaai wat rolbal in die wêreld beleef. Uiteindelik word dit erken as ‘n sport vir alle ouderdomme en waarskynlik een van die enigste wat kleinkinders, ouers en grootouers vir baie jare saam kan beoefen.



