
Twee Potchefstromers het die afgelope naweek, in Bloubergstrand uitstekend gevaar en was een van die twee vinnigste bote op die dag.
Drie Noordwes spanne van die F1 rubberboot klub het in die laaste kampioenskap van die seisoen meegeding. Boot S40 met Renier le Roux en spanmaat Jan Human van Klerksdorp, en boot S14 met Renier Cronje en spanmaat Franscois van Rooyen van Potchefstroom, het uitstekend gevaar met die twee vinnigste bote in die p750 standaard klas.
Die twee spanne het duidelik hul teenwoor-digheid laat geld en die sirkel wedren in die branders, sowel as op die langafstand wedren oorheers. Die span van boot S47, Taylor & Dusty Day ook van Klerksdorp, het onder die moeilike weersomstandighede goed presteer. Gedurende die eerste wedren was hulle in die voorste posisie, maar het hulle die plek afgestaan en derde geĆ«indig nadat die wedren gestop is weens ‘n deelnemer wie se boot in die rowwe branders omgedop het.
In die tweede wedren het hulle weer ‘n derde plek behaal, maar in die finale wedren van die dag uitgeval nadat die boot se motor onklaar geraak het.
Die wedren wat oor twee dae gestrek het is op gepaste wyse gewen deur Cronje en Van Rooyen in boot S14.
Die jaarlikse prysuitdeling van die rubberboot organisasie, Saira, het op 16 November plaasgevind. Le Roux en Human het met die nasionale titel in die gemodifiseerde klas, p750 mods, weggestap. Boot S14 van Cronje en Van Rooyen het ‘n tweede plek in die p750 standaard klas by die nasionale kampioenskappe behaal.
Die jaarafsluiting van die F1 rubberboot klub sal op 30 November te Vaal Reefs bootklub plaasvind waartydens sekere sportmanne hul Noordwes-kleure sal ontvang. Vir enige navrae, kontak voorsitter Jean Louw by 0836341171.



