Gimmies en Randburg het Saterdag, 17 Mei, die punte in hulle Noordvaal-Bowl afdeling kragmeting gedeel.
Die Potchefstromers het Randburg toe gereis na hulle op 10 Mei ‘n goeie naweek teen Ermelo beleef het. In die jongste rondte wedstryde kon Gimmies nie vir Randburg die uitklophou toedien nie. Die 1ste XV wedstryd het 33 – 33 geëindig.
Volgens Regardt Kleingeld, Direkteur van rugby by Gimmies, was dit ‘n harde wedstryd op Randburg.
“Ons was gemaklik voor toe het die manne bietjie van die plan af gewyk. Dit het Randburg kanse gegee, maar albei ons eerste wedstryde was weg gewees, wat altyd moeilik is. Ons het met punte terug gekom wat vir my goed is,” het Kleingeld gesê.
Die rooster raak nie makliker vir Gimmies nie, wat komende naweek hulle veldtog teen Volkies voortsit. Die Classic Clash tussen die twee skole is altyd ‘n groot byeenkoms vir Potchefstroom.



