Ondanks ‘n onoorwonne seisoen vir Gimmies se o15A krieketspan kon die skool nie na die Finsbury A-liga skuif nie.
Al het Gimmies se o15A’s die Finsbury B-liga titel gelig, kon hul nie na die A-liga skuif nie, nadat die eerste span hulle wedstryd teen Midstream College met vyf paaltjies verloor het. Gimmies het nodig gehad dat albei spanne wen om vir die Finsbury A-liga se promosie/relegasiestryd te kwalifiseer. Gimmies eindig algeheel tweede op 38 punte, slegs een punt agter Midstream College van Centurion.

Desnieteenstaande, was dit ‘n fantastiese seisoen vir Gimmies se o15A’s wat al hul wedstryde oortuigend met bonuspunte gewen het.
Die kersie op die koek was die afgelope Saterdag se 107-lopie oorwinning tuis teen Midstream.
Gimmies het eerste gekolf en 225 almal uit in hul 50 beurte aangeteken. Casey Lues (69) het die beurt geanker, met Juvan Botes (25) wat ook goeie ondersteuning gebied het.

Midstream is daarna vir slegs 118 in 33 beurte uitgeboul. Botes het sy veelsydigheid met 3/41 gewys, terwyl Marno Hattingh se 2/14 ook skitterend was.
Die eerste span het egter nie dieselfde sukses beleef nie. Gimmies is vir 207 in 49 beurte uitgeboul, met Christivan Coetzer (34) en Bernard Judels (28) wat die beste bydraes gelewer het.
Midstream het die teiken bereik met 208/5 in 33 beurte. Damian Kruger (2/29) was die beste bouler vir Gimmies, maar sy en sy spanmaats se boulwerk was nie genoeg om die nederlaag te voorkom nie.
Finsbury Superliga B: Puntestand
Eerste spanne:
- Hans Moore: 20
- Midstream: 19
- Gimmies: 13
- Montana: 10
- Nelspruit: 10
- Marais Viljoen: 0
o15-spanne:
- Gimmies: 25
- Midstream: 20
- Montana: 9
- Nelspruit: 9
- Hans Moore: 7
- Marais Viljoen: 2
Algehele puntestand:
- Midstream: 39
- Gimmies: 38
- Hans Moore: 27
- Montana: 19
- Nelspruit: 19
- Marais Viljoen: 2



