SportSport

NWU Eagles wil groot gaan in eerste tuiswedstryd in die Varsitybeker hierdie Maandag

NWU hoofafrigter, Burger van der Westhuizen, noem dat sy span weet wat hul moet doen in hul eerste tuiswedstryd hierdie komende Maandag teen die Emeris.

Die NWU Eagles het die werk ingesit en is nou opnuut gefokus om hul ondersteuners met topklas rugby hierdie komende Maandag, 23 Februarie te bederf.

Die NWU pak die nuwelinge van die Varsitybeker die Emeris, aan op die Fanie du Toit Sportgronde om 16:45. Hierdie eerste kragmeting tussen hierdie twee spanne beloof om kliphard te wees en sal heel moontlik die besoekers se oë laat rek.

‘n Varsitybekerwedstryd op die Fanie du Toit sportgronde is iets wat elke NWU rugbyspeler voor leef. Nadat hul CUT met 59-41 geklop het verlede week, is die motivering hoog om nog meer te kan doen en op hulle foute reg te maak.

Die NWU losskakel, MJ Mostert tydens ‘n oefening hierdie week. Foto: NWU Rugbyintituut/Facebook.

Volgens NWU hoofafrigter, Burger van der Westhuizen, was sy span se vertoning nie iets waarop hy tevrede was nie, al was hy dankbaar oor die wen.

Van der Westhuizen meen dat daar nog baie werk voorlê voordat die NWU hul beste spel kan lewer.

“Ons wedstrydbestuur moet beter. Die foutefaktor was heeltemal te hoog. Die bal was wel baie nat, wat dit moeilik gemaak het. CUT se drieë was als van ons foute af,” noem hy.

Die NWU was teen halftyd met 24-34 agter en moes hul sokkies optrek om ‘n beter tweede helfte vertoning te lewer. Die NWU het 35 punte in die tweede helfte aangeteken teenoor CUT se agt. Die NWU se blitsige linkervleuel, Therlow Prins, het ook ‘n uitstekende driekuns gedruk. Voorlangs was die NWU sterk en kon meer beheer in die tweede helfte neem met die plaasvervangers wat ekstra woema gebring het.

“Ons moes net by die beplanning bly. Dit wat ons doen, waarin ons glo en waarin ons goed is,” verduidelik Van der Westhuizen.

Die Emeris het met 41-61 teen UJ vasgeval. Jacques Marais, sowel as Nkazimulo Mzolo het twee keer vir die Emeris gaan druk.

“Dit gaan lekker wees om by die huis te speel. Dit is ook die eerste tuiswedstryd vir van ons nuwe ouens. Om tuis te speel verander nie wat ons moet doen nie.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button