Twee van Laerskool Mooirivier se topatlete, Owame Moloi en Cyril Lawless, het silwermedaljes by die SA Laerskole-atletiekkampioenskappe in Kaapstad vanaf 20–21 Maart verower.
Moloi het ’n fantastiese tweede plek in die seuns o.12 150 meter-item in ’n tyd van 19.72 sekondes behaal. Owame het ook silwer in die seuns 4x100m aflos behaal. Lawless het puik silwer verower in die seuns o.10 70 meter hekkies in 12.29 sekondes.
Milla Oberholzer van Laerskool Baillie Park het ’n goeie vyfde plek in die dogters o.13 200 m-item behaal. Sy het ‘n tyd van 27.10 sekondes klaargemaak.

Moloi en Lawless is die enigste Potchefstroomse atlete wat medaljes in Noordwes-kleure by die SA Kampioenskappe behaal het.
Ander uitblinkers vir Noordwes in die Dr. Kenneth Kaunda-distrik sluit in Ryan Beets van Laerskool Saamtrek in Klerksdorp, wat ’n verstommende drie goue medaljes verower het en ook ’n SA-rekord in die seuns o.12 spiesgooi opgestel het.
Beets, onder die afrigting van die voormalige NWU-spiesgooier, Erich Wiese, het sy spies 51.79 meter ver gegooi om goud te verower.

Hy het ook goud in diskus (43.05 meter) en gewigstoot (14.44 meter) behaal.
Imke Swanepoel van Laerskool La Hoff in Klerksdorp was nog ’n uitblinker met twee goue medaljes in die dogters o.12 150 meter in 19.64 sekondes en in die 100 m in 12.74 sekondes. Sy het ook silwer in die 150 m hekkies in 20.68 sekondes behaal.
Algeheel het Noordwes se top-laerskoolatlete ’n derde plek behaal met 37 medaljes by dié kampioenskappe, waarvan 13 goud, 12 silwer en 12 brons is.



