85-0 was nie die telling wat Luiperds ondersteuners in gedagte gehad het toe hul die eindtelling sien na ‘n loesing teen die Pumas die afgelope Vrydagaand (17 April) in Mbombela nie.
Die Pumas is vir ‘n rede op die tweede plek in die punteleer, maar die Luiperds het die afgelope ruk veggees gewys. Tog was hul tweede beste op die aand met ‘n jong span wat nie antwoorde vir ‘n ervare en goed geoliede Pumas-masjien nie.
Die Pumas was van die staanspoor af in beheer en het teen rustyd alreeds met 40-0 voorgeloop.
Die Luiperds het hul wonde gelek en ‘n baie beter vertoning teen die Boland Kavaliers op Olënpark moet lewer op Vrydag, 24 April om 18:30.

Die Kavaliers is vyfde op die punteleer op 20 punte en sal ‘n wen benodig om hul kanse vir die top 4 plekke te verseker wat ‘n direkte plek in die Curriebeker Premierliga sal bied.
Die Luiperds sal net vir trots moet speel en sal graag vir Boland wil verras. Boland gaan wel nie maklik wees nie. Hul het ‘n goeie afgeronde span, onder die afrigting van Hawies Fourie, wat vroeër in die kompetisie vir die Cheetahs in Bloemfontein laat les opsê het.




