Drie van Volkies se netbal-en hokkiespanne het die geleentheid om hierdie naweek tydens die NWU Prestige Sportreeks met goue medaljes om hul nekke te eindig.
Vanaf 30 April tot 2 Mei gaan 14 van die topskole in dié reeks in Potchefstroom hul finale plekke bepaal, ná ’n klomp naweke van klipharde en opwindende aksie.

Volkies se eerste netbalspan gaan teen Hoërskool Marais Viljoen van Alberton te staan kom om vir die eerste en tweede plek uit te speel. Hierdie groot stryd vind op 1 Mei om 11:15 op die NWU-netbalbane plaas. ’n Oorwinning vir Volkies sal die perfekte einde wees en ook selfvertroue bou vir die groot Gimmie-Volkies-stryd wat later in Mei plaasvind.

Op hokkiegebied gaan Volkies se o16-seunshokkiespan vir ’n historiese goue medalje speel wanneer hulle op 30 April teen Hoërskool Pietersburg op die NWU-Astro te staan kom. Dit sal die eerste keer wees dat Volkies se seunshokkiespan vir goud in aanmerking kom.
Die eerste span hokkiedogters speel om 15:45 teen Hoërskool Pietersburg vir die goue medalje. Hierdie span is op goeie vorm nadat hulle ‘n silwer medalje tydens die afgelope Fairtree Sportfees by Menlopark behaal het. Hulle het in daardie wedstryd naelskraap teen Menlopark verloor.
Bepalings
Donderdag, 30 April
15:45 – o16A-seunshokkie: Volkies teen Hoërskool Pietersburg (NWU-Astro)
Vrydag, 1 Mei
11:15 – Eerste netbalspan: Volkies vs Hoërskool Marais Viljoen (NWU-netbalbane)
16:05 – Eerste dogtershokkiespan: Volkies vs Hoërskool Pietersburg (NWU-Astro)



