Dit gaan nie altyd oor die grootte van die hond in ‘n tweestryd nie, maar eerder die veggees van die hond in ‘n tweestryd.
Hierdie bekende gesegde van Mark Twain is iets wat beslis ter sprake is wanneer Potch Dorp Rugyklub sake teen Klerksdorp Rugbyklub (Zambezi) gaan uitspook hierdie Saterdag, 16 Mei in Klerksdorp.
Hierdie Neserligastryd is nog ‘n ontmoeting in die kleurryke geskiedenis tussen hierdie twee buurdorpe, wie se geskiedenis albei meer as ‘n eeu strek. Potch Dorp sal na hul 38-38 riller teen Impala hierdie keer die wa deur die drif wil trek.
Verlede jaar het Klerksdorp vir Potch Dorp in Potch mekaar aangevat met Dorp se eerstespan wat met 36-19 gewen het.
Niekie Pullen, voorsitter van Potch Dorp Rugbyklub, glo dat Potch Dorp se hart, dissipline en trots die verskil sal maak op die dag.
“Al is ‘n olifant groot en indrukwekkend, selfs die grootste dier in die bos trap versigtig wanneer ‘n trop honger leeus op jag is. Soos elke rugbyondersteuner weet, wen grootte alleen nie die wedstryd nie. Ons “leeus” is gereed om te jag. Ons sien uit na ‘n harde maar respekvolle stryd teen Klerksdorp,” meen Pullen.
Daar is ‘n grootskaalse respek tussen hierdie twee klubs, waar daar altyd hard geveg word op die veld, maar na die tyd kan daar ook ‘n koue een saam geniet wor.
“‘n Tradisie soos dié, wat oor jare gebou is, is iets besonders en moet vir nog baie jare behoue bly. Dit is altyd ‘n groot voorreg om die veld met Klerksdorp te deel. Al is daar ‘n vurige mededinging wanneer die fluitjie blaas, is daar ook ‘n diep wedersydse respek tussen twee trotse rugbygemeenskappe wat dieselfde liefde vir die spel deel. Mag hierdie besondere wedstryd vir nog baie jare voortleef.”
Die wedstryd sal omstreeks 16:00 afskop.



