Twee doele van Timari “Tiekie” Jonker en Inge Hamm het Gimmies se eerste dogtershokkiespan na ‘n oortuigende 4-1 oorwinning teen Volkies in die 2026 Classic Clash geneem.
Die telbord wys nie heeltemal hoe taai sake in die eerste 15 minute was nie, met die twee spanne wat met die telling op 1-1 gaan water drink het.
Jonker, Gimmies se kaptein, het haar leierskap gewys en ‘n strafdoel in die doelhok gesit voordat Zanerie Rohlandt met ‘n korthoekie aan die einde van die eerste chukka vir Volkies terug in die wedstryd gebring het.
Dit was die laaste keer wat Volkies die doelhok kon vind, met Gimmies wat hul geleenthede klinies benut het. Gimmies het ook die wedstryd met spoed gespeel en nie vir Volkies kans gegee om asem te skep nie.
Jonker was uitstekend en het die toutjies getrek. Soms het sy verby twee of drie verdedigers geglip voordat sy net ‘n spanmaat met ‘n aangee gevind het. Dit het gelyk of sy die bal met ‘n denkbeeldige tou aan haar stok hou soos sy die spel beheer het.
Vermelding kan ook aan Volkies se Maré Coetzee en Tessa Ferreira gegee word, wat albei ‘n paar keer Gimmies se verdediging besig gehou het.
Toe Gimmies hul voorsprong vergroot, was dit wel ‘n moeilike taak om by te hou en die verdediging te breek.
Die wedstryd was taaier as wat die 4-1-telling weerspieël, maar op die ou einde was Gimmies die beter span op die dag en het hulle ‘n kliniese oorwinning verdien.
Foto’s: Wouter Pienaar












