In ‘n opwindende wedstryd wat enige kant toe kon gaan het die Luiperds se o18 Cravenweekspan ‘n welverdiende 29-28 oorwinning teen die Griekwas o.18’s behaal hierdie afgelope Saterdag, 20 Junie op Olënpark.
Die Luiperds was van die staanspoor af aangeskakel en het goeie aggressie op beide aanval en verdediging getoon.
Die Potchefstroom Gimnasium agtsteman, De Wet Grobler, was puik in sy Luiperdstrui en het ‘n groot aandeel in sy span se eerste drie gehad met ‘n sterk lopie.

Anders uitblinkers vir die Luiperds was Karabelo Kgamanyana in die nommer 14-trui sowel as die Wesvalia binnesenter, Wian du Preez, wat die wendrie gedruk het. Aydan Willemse van RHS en Simpiwe Nero van KHS het ook gevaarlik met bal in hand gelyk.
Voorlangs was die tweelingbroers, Evan en Ruben van Heerden, seuns van die voormalige Springbok, Wikus van Heerden, ook goed.






