SportSport

Spiesgooier hou sy visier op die Statebondspele

DIe oud-Gimmie, Waldouw Smit, het verlede maand in Europa met 'n persoonlike beste afstand van 84,79 meter, sy stempel afgedruk.

Vir Potchefstroomse atletiekkenners is Waldouw Smit se naam welbekend. Nie net omdat hy die SA-spiesgooikampioen is en al drie nasionale titels agter sy naam het nie, maar ook omdat hy reeds as tiener vir Potchefstroom Gimnasium met wêreldbeste afstande geskitter het.

Nou, nege jaar nadat hy by Gimmies gematrikuleer het, is sy plan eenvoudig: om ’n medalje by die 2026 Statebondspele in Glasgow, Skotland, van 23 Julie tot 2 Augustus te verower.

“Dit voel ongelooflik om vir my eerste Statebondspele-span gekies te word. Dit was een van my doelwitte vir die jaar. My hoofdoel is om ’n medalje by die Spele te wen,” sê Waldouw, wat onlangs twee persoonlike beste afstande in Europa behaal het. Die eerste keer was dit ’n gooi van 84,57 m, gevolg deur ’n reusagtige 84,79 m, wat tans sy persoonlike beste afstand is.

“Natuurlik gee dit ’n mens baie selfvertroue vir die res van die seisoen. ’n Groot bydrae tot die sukses is goeie voorbereiding en ’n baie goeie ondersteuningsraamwerk rondom my.”

Een van Waldouw se beste eienskappe is sy kanniedood-houding. Hy het reeds van talle beserings herstel wat sy loopbaan sou kelder, maar iets het hom laat aanhou.

Hierdie mentaliteit was ter sprake tydens vanjaar se Afrika Spele, waar hy voedselvergiftiging opgedoen het – ’n dag voordat hy moes kompeteer. Tog het hy wonderbaarlik met ’n bronsmedalje teruggekeer.

“Ek moes baie hard baklei om in die kompetisie te bly, en my kop moes sterk wees om myself heeltyd positief te hou. Ek voel ek het dit goed gedoen op die dag.”

Hierdie ervaring was moontlik die beste ding wat met hom kon gebeur. Dit het die fondasie gelê vir sy Europese atletiektoer, waar hy vyf eerste plekke en een derde plek behaal het.

“’n Mens weet waartoe jou liggaam in staat is, so jy moet aanhou glo dat jy saam met die beste in die wêreld kan kompeteer en ook kan wen. Nog ’n groot pluspunt is dat ek spiesgooi regtig baie geniet en weet dit is ’n talent wat die Here vir my gegee het. As dit dus nie goed gaan in een kompetisie nie, pla dit my nie, want ek leef my passie uit en dit bly ’n voorreg.”

Waldouw, ‘n voormalige NWU atleet, het verlede jaar by Potch Track Club (PTC) aangesluit onder die leiding van Jean Verster. Sy afrigter die afgelope twee jaar is Chris de Beer.

“Die afgelope twee jaar werk ek saam met Oom Chris, en hy het my regtig weer lief gemaak vir die sport. Ek sou nie wees waar ek vandag is sonder hom nie – hy maak altyd seker ek is voorbereid vir elke kompetisie.”

Waldouw Smit is ‘n oud-Gimmie, wat mik na verdere prestasie op die internasionale vlak.

Buite sy tyd op die veld werk hy vir die welbekende Trompie Groep. “Ek is baie bevoorreg om vir mense soos oom Philip en Nico Tromp te werk, wat my die geleentheid gee om oorsee deel te neem en my loopbaan en passie vir atletiek uit te leef.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button