Die bekende Van Zyl-tennissussies van Potchefstroom, Mari-Louise (20) en Jahnie (17), het mekaar die afgelope naweek aangevat in ’n ITF $15 000-halfeindstryd in Hillcrest.
Dit is nie elke dag dat hierdie twee teen mekaar in so ’n groot stryd sake uitspook nie. Ná ’n taai stryd het die ouer sussie, Mari-Louise, die wen met 6-4, 6-4 gekry.
Mari-Louise (tans 958 in die WTA-ranglys) het wel in die eindstryd teen die Franse tennisspeler, Astrid Cirotte, met 1-6, 6-7 verloor.
Dit was die derde toernooi in ’n reeks toernooie by Hillcrest.
Mari-Louise vertel hoe sy en Jahnie (tans 1034 in die WTA-ranglys) baie opgewonde was om teen mekaar te speel.

“Ons is heel gelukkig dat ons altwee goed in die toernooi gedoen het. Ons het glad nie gestres nie. Ons het nie omgegee wie gewen of verloor het nie. Ons weet ons kan net ons tennis speel sonder enige verwagtinge. Ons is altwee bly vir mekaar.
Jahnie het vir haar ouer sussie goed laat sweet en het op ’n stadium in albei stelle voorgeloop.
“Ek kon in albei stelle terugkom. Ek dink dit was lekker vir ons ouers ook om dit te kon beleef,” vertel Mari-Louise.
Beide Jahnie en Mari-Louise is oud leerders van Laerskool Mooirivier. Hul was ook ‘n vir ‘n kort ruk in Potchefstroom Gimnasium.
“Ons bly die hele toernooi saam, so ons het saam opgewarm en ontbyt geëet voor die wedstryd. Op die dag was ons omtrent 24 uur bymekaar. Dit was regtig ’n baie cool experience.”



