Retha Fitchat

‘n Video van ‘n vermeende kinderdief wat gestuit is pas nadat hy ‘n 5-jarige dogtertjie voor die oë van haar ma gegryp het, maak opslae op sosiale media. Die videomateriaal wat Donderdag, 10 September omstreeks 17:00 deur die betrokke eetplek in Florida, wes van Johannesburg opgeneem is, begin waar twee vroue en die dogtertjie by ‘n tafel in die buiterestaurant sit.
Die volgende oomblik spring ‘n man, geklee in ‘n blou, gestreepte T-hemp en donker langbroek, oor die lae heining rondom die eetplek. Hy pyl reguit af op die dogtertjie en probeeer haar aan die keel boontoe ruk. ‘n Vrou, vermoedelik haar ma, duik oor die tafel in ‘n poging om haar kind te beskerm en word heeltemal bo-oor die tafel geruk. Verskeie ander restaurantgangers wat die voorval sien gebeur het, spring ook op om hulp te verleen.
‘n Man met ‘n donker hemp en ligte broek haas hom na die aanvaller, kry hom in ‘n stewige nekgreep beet en dwing hom grond toe terwyl ander omstanders om die vegtende mans saambondel. ‘n Vrou, vermoedelik die ma, het intusssen daarin geslaag om die dogtertjie uit die aanvaller se greep te bevry. Sekondes later, terwyl die held nog met die aanvaller stoei en hom in ‘n beenklem beet het, kom die ma inderhaas terug en gooi ‘n drinkglas met geweld in die vermeende aanvaller se gesig. Die aanvaller bly daarna in ‘n skynbare semi-beswyming op die grond lê. Volgens Safegaurd Security is die verdagte direk daarna deur die sekuriteitsbestuurder in hegtenis geneem.
In ‘n volgende video kan die verdagte gesien word waar hy skreeuend op die grond lê met sy hande vasgebind. Sy gesig is bebloed waar die ma se glas hom getref het. Die verdagte skreeu-praat met omstanders, maar dit is onduidelik of hy net iets probeer verduidelik, en of hy vloek of bid. Luitenant-kolonel Kay Makhubele het agterna aan die media gesê dat die 24-jarige verdagte op aanklag van aanranding in hegtenis geneem is. Dit is in dié stadium nie duidelik of hy ook van poging tot kinderroof aangekla gaan word nie.
Na die voorval is ‘n soektog deur joernaliste begin om die held wat die aanvaller platgeduik het, te vind. Hy is toe inderdaad gevind en is mnr. Dishal Sooku (38), ‘n Gautengse sakeman wat in Lenasia, digby die Vaaldriehoek, grootgeword het. Hy is volgens Jikishin Ju-Jitsu International SA ook ‘n sensei in die sportsoort en was dus net die regte man op die regte tyd om die aanvaller te stuit.
Lof vir mnr. Sooku het die afgelope 2 dae op sosiale media ingestroom vir sy vinnige en vreeslose optrede. Hy het gister aan ‘n Media24-joernalis gesê hy beskou homself glad nie as ‘n held nie. “Ek het maar net gedoen wat ek hoop enige ou sal doen as my kind die een in gevaar is,” het hy gesê.
Die verdagte het Vrydag vlugtig in die landdroshof in Roodepoort verskyn en bly voorlopig in aanhouding terwyl die saak verder ondersoek word.
Foto’s onder: Die 24-jarige aanvaller direk na die voorval.

