News

Raadsheer Phil Pretorius: Gaan stem – dit is jou reg!

Partye gaan nou hulle unieke boodskappe op ons af bombardeer in ‘n poging om jou stem te wen. Hier is ‘n paar riglyne vir hierdie “silly season”

Deur Raadsheer Phil Pretorius, DA Hoofsweep, Midvaal Plaaslike Munisipaliteit

Registrasienaweek het gekom soos ‘n dief in die nag. Nou is daar skaars 40 dae oor voor die plaaslike verkiesing. As jy gedink het jy weet wat informasie-oorlading is, is jy in vir ‘n verrassing. Partye gaan nou hulle unieke boodskappe op ons af bombardeer in ‘n poging om jou stem te wen. Hier is ‘n paar riglyne vir hierdie “silly season”.

Die eerste groep stemgeregtigdes stem vir hulle party, kom wat wil. Hulle doen so a.g.v. oorerwing, indoktrinasie en gewoonte. Baie min van hierdie persone sal ooit vir ‘n ander party stem en sal steeds die party van hulle ouers en/of vriende ondersteun sonder om die veranderende politieke-, kulturele- en beginsel-landskap te evalueer.

Die tweede groep is die mense wat luister en al die opsies opweeg. Hierdie is die beste roete aangesien jy nou stem vir ‘n groep mense wat binne ‘n sekere partygefundeerde raamwerk van norme en waardes gaan funksioneer om jou onmiddellike omgewing, jou dorp, voorstad en strate om jou huis, te bestuur. Wanneer ons na die geskiedenis van verkiesingsbeloftes kyk is daar partye wat jou die son, maan en sterre gaan belowe. Sommiges gaan slegs die ander partye kritiseer en jou indrukke van hulle probeer afbreek (soms met geïsoleerde gevalle van dienslewerings-oepsies sonder om die suksesse te noem). Vir die partye wat regtig jou belange op die hart dra is dit baie moeilik om teen fopnuus te veg en vra hierdie verkiesingsoefening dus van jou as kieser om ‘n wyse kop op jou skouers te hê.

Die Plaaslike Regeringsverkiesing het ten doel om i.) die raadslid in jou wyk te verkies asook ii.) die Proporsionelelys Raadslede (PR) wat die res van die raad sal opmaak te kies. Al hierdie raadslede saam moet in Midvaal saamspan om ‘n burgemeester, speaker en komiteelede te verkies wat die munisipaliteit namens jou sal moet bestuur. In Midvaal het ons nou 30 raadslede (waarvan 15 wyksraadslede is) in die raad en dus sal die kandidaat vir burgemeester ten minste 16 stemme op hom/haar moet verenig om te wen. Wanneer jy die somme maak is dit ‘n baie fyn lyn wat die partye gaan skei. Hier moet ons ingedagte hou dat sekere partye vir sekere sake kan SAAMWERK maar daarna eintlik kan maak soos hulle goeddink.

Dit is nie dieselfde as ‘n KOALISIE nie. Koalisies veronderstel ‘n formele samewerkingsooreenkoms waar die partye sekere toegewings maak om saam te regeer en die beheer van die munisipaliteit, en dus ook die uitvoerende posisies, te deel. Hulle moet dan saamstaan en saam stem in alle gevalle soos vooraf op ‘n koukus besluit. In sekere gevalle kan ‘n kleiner party se enkele raadslid goeie insette lewer en vir jou regte in die raad baklei. Dit is egter baie moeilik –  ‘n meerderheid wat soortgelyke waardes aanhang, kan baie meer vermag.

Dit is baie belangrik dat u verstaan dat daar NIE KOALISIES IN WYKE IS NIE. Wanneer jy stem vir jou wyksraadslid sal die kandidaat met die meeste stemme wen. Selfs as jy met slegs een stem wen, dan wen jy die wyk. Daar is dus nie ‘n opsie vir ‘n koalisie in wyke nie.

Dit beteken wanneer ‘n kleiner party stemme op hulle verenig wat normaalweg vir die groter party sou gaan, kan hulle albei die party se kanse fnuik en die party wat tweede lê se kandidaat die oorhand gee, byvoorbeeld: Party A wen altyd met 10 stemme (100 stemme). Party B verloor altyd met 10 stemme (90 stemme). Party C kom werf nou 11 stemme van Party A af weg. Party A verloor nou met 1 stem (89 stemme), party B het darem 11 stemme en Party B neem die wyk (en munisipaliteit) oor met 90 stemme. Dit help Party C net mooi niks.

As ons al hierdie klein skermutselinge optel, dan lei dit dalk tot die verloor van die groter oorlog. In Midvaal, met ‘n sterk verdeling tussen party A en B, is ‘n paar stemme dalk net dié wat die kameel se rug breek.

Die laaste groep mense is die wat nie registreer of stem nie, want hulle stem sal nie ‘n verskil maak nie. Die tekenprent waar 1 000 mense buite die stemlokaal staan en sê: “Ek stem nie… my stem sal nie ‘n verskil maak nie,” terwyl Party B daar met een stem wen, lui luisterryk in my gedagtes.

Gaan stem… dit is jou reg!

Trotse Midvaal groete, Phil.

Web: www.midvaal.gov.za

Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network

Tel: 0861 643 8225

MyMidvaal App

************************************************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button